City to City busongeluk: Dodetal staan op tien, talle beseer
Die Vrystaat provinsiale regering het sy opregte medelye met die families van die oorledenes betuig.
Tien mense is dood en meer as 27 beseer in ‘n gru botsing vanoggend op die N6 toe ‘n City to City bus kop-aan-kop met ‘n vragmotor sowat 15km suid van Reddersburg in die rigting van Smithfield gebots het. Van die beseerdes het 2 kritieke beserings opgedoen, en drie is ernstig beseer, het Hillary Mophethe woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer vanmiddag bevestig.
Mophethe sê pasiënte wat kritiek en ernstig beseer is, is in die Pelenomi Trauma-eenheid opgeneem, terwyl die 22 ander beseerders na die Stoffel Coetzee-hospitaal in Smithfield vervoer is.
Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid sou die Vrystaatse Premier, Me MaQueen Letsoha-Mathae en die provinsiale uitvoerende komitee vanmiddag die pasiënte wat in die Pelenomi-hospitaal opgeneem is, besoek het.


Die busongeluk volg etlike dae nadat agt mense Saterdag buite Heilbron gesterf het toe die bakkie waarmee hulle gery het op die Kliprivier-laagwaterbrug op ‘n grondpad tussen twee plase meegesleur en in ‘n stroom beland het. Onder die oorledenes was ‘n oupa, ouma, hul drie kleinkinders, assok ‘n man en vrou en hul 2-jarige dogtertjie.
Die Vrystaatse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, JNI Mbalula, het na vanoggend se busongeluk weer die belangrikheid van padveiligheid beklemtoon.
- Knip jou veiligheidsgordel vas en maak seker dat jou passasiers ook gebruik maak van hul veiligheidsgordels in die voertuig.
- Hou by spoedgrense.
- Wees bedag op voetgangers, fietsryers en ander padgebruikers.
- Moenie jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur nie.
- Wanneer jy ver moet ry, maak seker dat jy gereeld rus.
- Diens jou voertuig en maak seker dat dit padwaardig is.



