Oewereienaars gewaarsku om bedag te wees op stygende watervlakke
Die departement së hy monitor voortdurende watervlakke in die Vaalrivier-stelsel en sal die nodige beheermaatreëls toepas vir beheerde uitlaat van water by die damme as veiligheidsmaatreël om infrastruktuur te beskerm en te versker dat daar voldoende bergingskapasiteit is vir die duur van die reënvalseisoen.

‘n Vyfde sluis is vanoggend by Vaaldam oopgemaak om die watervlak te bestuur wat oornag drasties gestyg het weens volgehoue reën in die Vaaldam se opvangsgebied, en spruite en strome wat sterk vloei, Die oopmaak van ‘n vyfde sluis volg sowat 24 uur nadat Departement Waterwese en Sanitasie ‘n vierde sluis Saterdag by die dam oopgemaak het.
Teen Saterdag was die dam 107,82% vol, maar het die watervlak gestyg tot 109,39% vanoggend. Uitvloei by die dam het gevolglik verhoog van 550 kubieke meter per sekonde, na net minder as 700 kubieke meter per sekonde, terwyl invloei nou gemeet word teen 1 000 kubieke meter per sekonde.
Bloemhofdam se watervlak het ook sedert gister van 103,23% gestyg na 106,91% vanoggend, en is uitvloei stelselmatig deur die dag verhoog tot 1 400 kubieke meter per sekonde teen vanmiddag 16:00, het die departemeent gesê.
Vanoggend se verhoogde uitvloei by Vaaldam sou Barrage na verwwagting teen vanmiddag 16:00 bereik het, en sal die effek by Bloemhofdam binne die volgende drie tot vier dae gesien word, is gesê.
Weens die verhoogde uitlaat van water by Vaaldam, is daar die moontlikheid van oorstromings langs die rivieroewer stroomaf wat infrastruktuur sal raak wat gebou is op laagliggende dele binne die 100 jaar vloedlyn of 100m waarsku die departement.
Veral mense in laagliggende gebiede, oewereienaars, boere met pompe in die rivier of waar infrastruktuur op en naby die rivieroewer is, is gewaarsku om ag te slaan op die stygende watervlak van die Vaalrivier en waar nodig betyds te ontruim. Dit geld ook vir mense stroomaf na Bloemhofdam waar stygende watervlakke ook mense teenaan die rivieroewer sal raak.
Diegene teenaan die oewer van die Vaalrivier is gewaarsku om vroegtydig waardevolle toerusting, meubels, vee ensovoorts te ontruim om moontlike skade of verlies van lewe te voorkom wanneer die rivieroewer sou oorstroom.
By Grootdraaidam in die Bo-Vaal opvangsgebied, sal een sluis oop bly. Die dam is tans 102,41% vol, het die departement gesê.
Die departement së hy monitor voortdurende watervlakke in die Vaalrivier-stelsel en sal die nodige beheermaatreëls toepas vir beheerde uitlaat van water by die damme as veiligheidsmaatreël om infrastruktuur te beskerm en te versker dat daar voldoende bergingskapasiteit is vir die duur van die reënvalseisoen.
Die departement het ook die versekering gegee dat hy deurentyd volledige opdaterings gee op verskeie platforms oor damvlakke, en reënval sowel as die moontlikheid van vloede waar daar stygende watervlakke is met aanbevelings sodat mense vroegtydig gewaarsku kan word om te ontruim waar daar die moontlikheid van vloede is.
Dit sluit ook inligting in aan Rampbestuur op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak, die SAPD, boere en ander belanghebbendes.



