Voëlkyk-entoesiaste se kameralense en verkykers ingestel vir Birding Big Day
Birding Big Day moedig mense reg oor Suid-Afrika aan om uit te kom en voëls te gaan kyk.
Plaaslike voëlkykers in die Vredefort Koepel het lank voor sonopkoms hul sitplekke ingeneem in ‘n verskeidenheid habitatte om die streek se indrukwekkende voëlrykdom te dokumenteer vir vanjaar se Birding Big Day.
Die jaarlikse landwye voëlwaarnemingsinisiatief word deur BirdLife South Africa gekoördineer.
Die Koepel se unieke mengsel van Vaalrivier-oewerbos, savanne, granietkoppies en landbouveld het uitstekende toestande geskep vir ‘n uiteenlopende samestelling van spesies.
Saterdag se waarnemings in die Vredefort Koepel het onder meer die Kleinsperwer (Little Sparrowhawk), Kleinbyvreter (Little Bee-eater), Rooiborsswael (Red-breasted Swallow) en Witborsspreeu (Violet-backed Starling) ingesluit.


Selfs meer skaars spesies, soos die Bontnuwejaarsvoël (Jacobin Cuckoo) in sy swart vorm, is opgemerk, terwyl die Rooiwangnaguil (Rufous-cheeked Nightjar) reeds in die vroeë oggendure gehoor en gesien is.


Alle waarnemings is via die BirdLasser-platform ingedien, wat verseker dat die Koepel se data ‘n waardevolle bydrae lewer tot nasionale bewarings- en moniteringspogings.

Die versameling van hierdie voëldata dra ook by tot die Biodiversiteitsdoelwitte van die Koepel Bewarea – veral die behoefte aan die identifikasie en verspreiding van spesies in die Vredefort Koepel, en die opbou van navorsingsgebaseerde basislyn-inligting oor die streek se biodiversiteit.
Deelnemers wat in en om die Vredefort Koepel voëls geïdentifiseer het, het verteenwoordigend gekom uit onder meer BirdLife Wesvaal (Potchefstroom) en Feathers Voëlklub (Parys).
Spanne het met kreatiewe spanname geregistreer, soos Bontrokkies (142 spesies vir die dag), Koepelkakelaars (132 spesies) en Parys Feathers (79 spesies).

Die groepe het bestaan uit voëlkykers met uiteenlopende ervaring. Van diegene soos Marietjie Ferreira wat reeds vir die 24ste jaar aan Birding Big Day deelgeneem het, tot ywerige nuwe deelnemers soos Johan en Nicolette van Brakel, en gesoute voëlkyker Corrie Venter met meer as 600 spesies op haar Suid-Afrikaanse lewenslys. Dan was daar ook jong voëlentoesiaste soos Daleen en Elena Visser, rolmodelle en steunpilare, Justin en Ronel Roscher, en ook Feathers se klubvoorsitter, Martin Wolmarans.
Birding Big Day 2025 het weer beklemtoon waarom die Vredefort Koepel ‘n biodiversiteitshoeksteen vir beide die Noordwes- en die Vrystaat provinsies is – en waarom die voortgesette bewaring van hierdie kosbare ekologies sensitiewe Unesco-wêrelderfenisgebied van wesenlike belang bly.



