Emfuleni uiteindelik in hof oor jarelange besoedeling van Vaalrivier
Die VF Plus sê herhaalde waarskuwings aan die raad oor die ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s weens besoedeling van die Vaalrivier is jaar na jaar geïgnoreer.
Ná meer as vyf jaar van volgehoue druk van die VF Plus moet die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) eindelik op 3 Maart in die hof verskyn om te verduidelik waarom miljoene liter onverwerkte riool daagliks in die Vaalrivier beland het.
Die VF Plus het reeds in Mei 2020 ’n formele klag by die Groen Skerpioene ingedien en ge-eis dat dit ondersoek word, sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit.
Senekal sê verder daar is terselfdertyd ook ’n strafregtelike klag by die Vanderbijlpark-polisiekantoor ingedien teen die destydse administrateur. Die naam van die huidige munisipale bestuurder, April Ntuli, is later by die klagstaat gevoeg vir oortredings van die Nasionale Waterwet en ander omgewingswetgewing.
Senekal sê die rioolstelsel het reeds in 2018 in duie gestort weens deurlopende verwaarlosing en ’n gebrek aan onderhoud. Riool het vrylik deur strate, huise, begraafplase en paaie gevloei tot in die Vaalrivier en sy sytak.
Volgens ‘n verklaring van die VF Plus is die party se herhaalde waarskuwings aan die raad oor die ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s is jaar na jaar geïgnoreer, en het die party die saak ook onder die aandag van die menseregtekommissie (MRK) gebring wat na ’n deeglike ondersoek die besoedeling as ’n skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n gesonde omgewing en skoon water verklaar het.
Die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die nasionale departement van water en sanitasie, het Emfuleni amptelik verantwoordelik gehou vir die katastrofiese besoedeling.
“Die VF Plus beskou die ingryping van die Groen Skerpioene as ’n belangrike oorwinning vir die party wat ’n duidelike boodskap aan Emfuleni stuur dat hy nie langer sal wegkom met die versuim om infrastruktuur te onderhou nie,” is gesê.



