Duisende weer by Vredefort se Kruistog verwag
Die Kruistog gee mense 'n besondere belewenis van Paasfees en word die projek elke jaar deur Vredefort se inwoners aangebied.
Vir weke al word daar gewoel en gewerk vir ‘n vale in die Vrystaatse dorp, Vredefort, want oor minder as ‘n week, op Goeie Vrydag 3 April, maak dié dorp sy hart en strate oop vir duisende mense van heinde en ver vir die jaarlikse Kruistog.
Dié Kruistog wat vanjaar vir die vyfde jaar agtereenvolgens aangebied word, gee mense ‘n besondere Paasfeeservaring wanneer ‘n eiesoortige 3km Via Dolorosa met kruise deur die dorp gestap sal word. Langs die strate sal jy die stalletjies sien wat die lewe en gelykenisse van Jesus uitbeeld.
Verlede naweek is 520 houtkruise binne 50 minute deur net meer as 50 pare gewillige hande gemaak. Maar daar is ook help vou aan die plastiekblomme vir die vlot wat aan die voorpunt van vanjaar se Kruistog sal wees, en parke en sypaadjies in die dorp skoongemaak.




Vanjaar se vlot aan die voorpunt van die optog stel ‘n oop Bybel voor wat aansluit by die teks uit Johannes 1:14.
‘n Eerste vir die Kruistog is die replikas van die kuiselemente wat vanjaar gemaak word, waaronder die kruis, die kruisspykers en die spies wat die Romeinse wagte in Jesus se sy gesteek het.


Gewillige hande en oop harte help om elke jaar die Kruistog te kan aanbied. ‘n Besondere gemeenskap wat saamstaan vir iets groter as hulself.

Die Kruistog-program
- Die Kruistog vind plaas op 3 April vanaf 10:30 by Vredefort se sportgronde waar die Kruistog ook later afgesluit word.
- Die program begin met lofprysing en die gebruik van die nagmaal, waarna die 3km Kruistog teen ‘n gemaklike pas gestap word. Die roete is geskik vir oud en jonk.
- Trek gemaklik aan, onthou sonskerm en ‘n hoed.
- Kosstalletjies sal op die terrein beskikbaar wees – bring ‘n geldjie saam as jy iets sou wou koop.
- Bywoning en om deel te neem aan die Kruistog is gratis, en geen vooraf besprekings is nodig nie.
- Die program sal teen 13:00 klaar wees.






