Waarskuwing: R59 tussen Parys en Vredefort gesluit, groot skade aan teervlak op Schoemansdrift-pad
Motoriste word ernstig gewaarsku om nie aan versperringsmerkers te skuif op gedeeltes waar konstruksiewerk aan paaie gedoen word nie.
Motoriste word ernstig gewaarsku om bedag te wees daarop dat ‘n gedeelte van die R59 tussen Parys en Vredefort tans gesluit is met ‘n kontrakteur wat aangestel is om die slaggate op dié gedeelte van die pad te herstel.


Verkeer word via die Schoemansdriftpad na Vredefort herlei. Wees egter waaksaam – daar is ‘n gedeelte van die Schoemansdrift-pad wat baie sleg is waar die teervlak gesak het. Ry stadig en versigtig – dit is uiters gevaarlik. Daar is ook ‘n gedeelte met slaggate.
Wees ook bedag daarop dat spanne van die departement van paaie deurentyd ook besig is met herstelwerk van slaggate op die R59 tussen Parys en Sasolburg, die R59 tussen Vredefort en Viljoenskroon, en op die R59 duskant Vredefort in die rigting van Kroonstad.
‘n Beroep word ook op motoriste gedoen om assebliek nie die versperringsmerkers weg te skuif op paaie wat gesluit word vir konstruksie nie. Dit veroorsaak nie net skade aan die pad nie, maar is lewensgevaarlik vir jou, konstruksiewerkers, en ander motoriste wat jou voorbeeld volg om op gedeeltes van paaie te ry waar konstruksiewerk gedoen word.



