Direkte kraglyn moet watersuiweringsaanleg aan die loop hou
Die behoefte vir 'n direkte kraglyn is reeds in 2023 geïdentifiseer na grootskaalse protesoptrede oor watertekorte.
Die direkte geïsoleeerde oorhoofse kraglyn na die watersuiweringsaanleg in Parys, wat moet verseker dat die aanleg kan funksioneer selfs tydens kragonderbrekings, is in Februarie voltooi en reeds in gebruik.
Die vyf maande kontrak teen ‘n koste van R5,4m is deur die Departement van Waterwese en Sanitasie gefinansier as deel van die opknapping van die dorp se suiweringsaanleg.
Die projek is op tyd voltooi, het die munisipaliteit by navraag bevestig.
Voorheen het die suiweringsaanleg telkens gestaan wanneer Eskom of munisipale rotasie beurtkrag toegepas is, wat watervoorsiening geaffekteer het. Met die loods van die projek in 2025 is gesê dat dit gemeenskapsdeelname en plaaslike ekonomiese ontwikkeling sal bevorder met werksgeleentheid vir 11 mense, waarvan die meerderheid vroue.



