Local newsNews

R400m en 7 jaar later is dié Vrystaatse pad steeds nie herstel nie

Die herstelprojek aan die R76 moes reeds in 2022 voltooi gewees het.

Die omstrede R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus, wat al langer as sewe jaar herstel word, het belastingbetalers reeds meer as R400 miljoen gekos, maar die pad is steeds nie behoorlik herstel nie, en gedeeltes begin reeds weer verbrokkel.

Die Vrystaatse wetgewer se gesamentlike portefeuljekomitees oor openbare rekeninge en finansies, asook openbare werke, infrastruktuur, paaie, vervoer en menslike nedersettings, het hierdie week ’n oorsigbesoek aan die pad gebring om die vordering en gehalte van die projek te monitor.

Die herstelprojek aan die R76 het reeds in 2019 begin en sou oorspronklik in 2022 afgehandel gewees het. Ná jare se vertragings en wanbestuur, is die projek steeds nie voltooi nie.

Die aanvanklike kontrak van sowat R271 miljoen, wat aan die kontrakteur Sedtrade toegeken is, is in omstredenheid gedompel nadat die werk vir jare gesloer het en die padoppervlak op verskeie plekke begin verbrokkel het.

Die projek het eindelik in 2023 tot stilstand gekom ná dispute tussen die kontrakteur en die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer.

‘n Nuwe kontrak van sowat R146 miljoen is nou weer toegeken wat die totale koste van die projek tot meer as R400 miljoen opstoot en dit terwyl inwoners en motoriste steeds met ’n gevaarlike en swak pad opgeskeep sit.

Die VF Plus het die aangeleentheid reeds in 2023 na die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys en sal voortgaan om antwoorde te eis oor die enorme vermorsing van belastinggeld, swak kontrakbestuur en die gebrek aan aanspreeklikheid.

’n Oorsigbesoek is vandeesweek aan die R76 gebring om die vordering en gehalte van die projek te monitor. Foto verskaf deur die VF Plus
’n Oorsigbesoek is vandeesweek aan die R76 gebring om die vordering en gehalte van die projek te monitor. Foto verskaf deur die VF Plus

Die verval van dié projek het boere en inwoners reeds gedwing om uit hul eie sakke te betaal om van die ergste slaggate tydelik te herstel. “Dit is ’n skande dat gemeenskappe self moet probeer om kritieke infrastruktuur aan die gang te hou terwyl wanbestuur en korrupsie voortgaan om die Vrystaat se paaie te vernietig, sê Armand Cloete, VF Plus-LPW: Vrystaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button