Diere se winterwarmte gesteel ná nog ‘n gewetenlose DBV-inbraak
Sonder enige staatsubsidie, is die DBV uitsluitlik afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning. Terugslae soos hierdie inbrake het gevolglik 'n ernstige finansiële impak op die DBV.
Minder as twee maande nadat die Parys DBV-tak groot verlies gelei het ná ‘n inbraak, het gewetenlose skurke ook verlede Vrydagnag die Vereeniging DBV-tak geteiken.
Van die items wat by die Vereeniging-tak gesteel is, sluit onder meer in ‘n wasmasjien, komberse en van die hondebeddens. Alles items wat gebruik is om die diere in die DBV se sorg, te kon warm hou juis nou gedurende die koue wintermaande.
Benewens dit wat gesteel is, is die betonmuur by die tak se plaaswerf-area ook gebreek in die proses om toegang tot die perseel te kry.
Die wasmasjien is minder as drie maande gelede vir die tak geskenk.
Groot verlies ook met inbraak by Parys DBV
In Parys sit die DBV steeds met ‘n groot kopseer nadat dié tak se enigste voertuig tydens ‘n inbraak in die vroeë oggendure op Sondag 19 April gesteel is. Weens gebrekkige finansies kon die voertuig nog nie vervang word nie en het dit ‘n ernstige impak op die uiters noodsaaklike diens wat die Parys DBV in die gemeenskap, maar ook in ‘n wyer area as net Parys, lewer.
Wat dit nog erger maak is dat Parys DBV se bakkie kort voor die inbraak net weer in diens gestel is, nadat daar maande lank gewag is vir ’n enjinvervanging.
Soos met die Vereeniging tak se inbraak is daar in Parys ook tydens die inbraak aansienlike skade aangerig. Die diewe het toegang deur die dak gekry en in die proses die plafonne beskadig.
Naas die bakkie is ook verskeie ander items gesteel wat die DBV gebruik om hul daaglikse werksaamhede te kan verrig.
Parys DBV se voertuigopsporingdiens het die DBV-bakkie kort na die inbraak tot in Sebokeng en daarna Orange Farm kon opspoor, voordat die sein verlore geraak het.
Sedertdien is ‘n skare finansieringsveldtog (BackaBuddy) vir Parys DBV begin in die hoop om genoeg fondse bymekaar te maak om weer ‘n voertuig vir die tak bekom.
Gebruik die volgende bankdetail as jy jou weg oopsien om die Parys DBV te ondersteun.
Banking details:
SPCA Parys
Standard Bank
Acc no: 040947882
Branch: 051001



