Eerste oorwinning in SA Rally Raid-seisoen vir Variawa en Moore
Die tweede ronde van die 2026 Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap vind van 24 tot 26 Julie oor drie dae in die Stella-omgewing plaas.
Die verdedigende Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioen (SARR), Saood Variawa en sy navigator, Charan Moore, het die eerste oorwinning van die 2026-seisoen in hul Toyota Gazoo Racing Hilux IMT EVO behaal toe hulle die INGCO Parys 400, wat op 19 en 20 Junie oor meer as 400 kilometer in die Vrystaat plaasgevind het, gewen het.
In ’n wedren wat beskryf is as uiters uitdagend met baie klippe, vinnige oop gedeeltes, stof en modder wat almal ’n rol gespeel het in die benadering van die spanne tydens die eerste ronde van die SARR-seisoen, was daar ’n besonder noue en harde stryd aan die voorpunt, met slegs sekondes wat die voorste spanne oor die twee dae geskei het.

Variawa/Moore het Saterdag se eerste van twee 200 kilometer-skofte vanaf die tweede plek aangepak, agter Gareth Woolridge/Boyd Dreyer (Castrol NWM Ford Rally-Raid Evo Plus), wat die vinnigste gekombineerde tyd aangeteken het ná ’n kort kwalifiserende wedren en ’n kompakte 21 kilometer-skof wat Vrydag twee keer afgelê is. Net drie sekondes het die twee spanne geskei, terwyl slegs 38 sekondes die voorste vyf spanne gedek het.
Die stryd aan die voorpunt was uiters intens. Giniel de Villiers/Dennis Murphy (#ToyotaHilux Rally-Raid DKR T1+ EVO), wat die hoofwedren vanaf die vyfde plek begin het, sowel as Variawa/Moore se spanmaats, Guy Botterill/Oriol Mena Valdearcos – die wenners van verlede jaar se byeenkoms – wat derde weggespring het, het almal deelgeneem aan die veldren-uitdaging.
Uiteindelik het Variawa en Moore, wat die gereelde Franse navigator Francois Cazalet vervang het, die klippe suksesvol vermy en foutloos gejaag om die maksimum algehele punte in te palm. Hulle het ook die Ultimate FIA T1+-klas gewen met ‘n tyd van 05:56:31, en slegs 29 sekondes het hulle van die tweede geplaasde Woolridge/Dreyer geskei.
Sekondes tussen voorloper en tweede, derde en vierde posisies
Net drie sekondes het die spanne in tweede, derde en vierde plek van mekaar geskei. De Villiers/Murphy (05:57:01) het die laaste podiumplek ingeneem en net een sekonde agter die NWM Ford-span geëindig, terwyl Botterill/Mena Valdearcos nog ’n sekonde verder terug was om vierde algeheel en vierde in Ultimate FIA T1+ te eindig.

Na ’n berekende wedren het die Duitse jaer Daniel Schröder, saam met Juan Möhr, hul PS Laser WCT VW Amarok in die vyfde plek huis toe gebring (06:06:57). Agter hulle het Jayden Els/Johann Swemmer (Century Factory Racing Team CR7), sesde algeheel en sesde in Ultimate FIA T1+ geeïndig (06:08:32), ondanks tegniese probleme sowat 30 kilometer voor die eindpunt.
Els/Swemmer het Vrydag die fel betwiste kwalifiserende wedren gewen het maar tyd verloor tydens Skof Een weens ’n meganiese probleem. Saterdag het hulle vanaf die 17de plek moes wegspring en ten spyte daarvan ’n vasberade terugvegpoging gelewer.

Wors Prinsloo/André Vermeulen het hul Castrol NWM Ford Evo Plus in die sewende plek oor die eindstreep gebring (06:12:58).
Soos die stryd in Ultimate FIA T1+, was die kompetisie in Ultimate SA T1+ net so fel. Die klasoorwinning het gegaan aan die Farmer’s Meat CR6–span van Lood du Preez/Adriaan Roets (06:14:27), wat op die laaste dag tien plekke opgeskuif het nadat hulle vanaf die 18de plek begin het. Hulle het Philip Botha/Andries Mynhardt (Red-Lined Revo T1+) met net 118 sekondes geklop, terwyl Botha/Mynhardt op hul beurt slegs sewe sekondes voor die Nederlandse duo Victor Versteijnen/Petrus van Dal (Daklapack Rallysport Red-Lined Revo GTR) geëindig het, wat die SA T1+-podium voltooi het.
Nog drie spanne het punte in die algehele en Ultimate FIA T1+-afdeling aangeteken. Saood se jonger broer en spanmaat, Sa’aad Variawa, saam met Wade Harris, het 11de algeheel geëindig (06:18:03), terwyl twee verdere Castrol NWM Ford Evo Plus-spanne, die nuwelinge Michael en Luke Lawlor (pa en seun) en die Brasiliaanse span Marcos Baumgart/Kleber Cincea, onderskeidelik 14de en 16de algeheel geëindig het.
Hul spanmaats, Danie Ludick/Denzil Williamson, het ongelukkig gerol, terwyl wiel-teëspoed die Blignaut-broers, Fouché en Bertus (#TeamHilux Rally-Raid Toyota DKR T1+ EVO), wat die wedren vanaf die vierde plek begin het, gedwing het om 40 kilometer voor die eindpunt uit te tree.
Daar was ook eerste punte op die telbord vir die Ultimate SA T1+-span Jurgen Schröder/Rikus Fourie (PS Laser WCT VW Amarok), wat 12de algeheel en vierde in die klas geëindig het (06:23:23) nadat hulle ver terug geval het weens tydverlies ná ’n meganiese probleem op Vrydag. Johan en Sean van Staden (Red-Lined Revo T1+) het verskeie uitdagings oorkom, insluitend ’n wegspring heel agter in die veld en die verlies van ’n wiel tydens die hoofwedren, om vyfde in die klas te eindig.
Gary Bertholdt/Henry Köhne (WCT Toyota Hilux T1+) en Hennie de Klerk/Carl Swanepoel (Toyota Hilux) het die laaste dag binne die algehele top 10 begin, maar moes in die tweede helfte van die wedren onttrek.
Twee VAPS HCV Rally-Raid-spanne het op die Adventurer-klas se podium geëindig. Peet Victor/VanZyl Jonck het die oorwinning behaal nadat hulle die wedren van agter in die veld moes aanpak weens tydverlies met ’n wielverandering tydens Vrydag se wedren. Tyler Botha/Kyle Lotter in ’n soortgelyke Red-Lined VK50 het derde geëindig, terwyl Tokkie Ferreira/Nardus Janse van Rensburg (Ford Ranger) tweede geëindig het.
In die Challenger-klas het die veterane Geoff Minnitt/Rodney Burke (Hydro Power Equipment Maverick R) die jong Nederlandse broers, Henk en Pim Klaassen (DaklaPack Rallysport Taurus T3 Max), geklop. Die spanne het onderskeidelik 13de en 19de algeheel geëindig.
Die tweede ronde van die 2026 Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap vind van 24 tot 26 Julie oor drie dae in die Stella-omgewing plaas.
Einde
Foto’s: Dave Ledbitter



