Local newsNews

SA kan nie bekostig om sy koringprodusente te verloor nie

Graan SA sal nou ander opsies ondersoek om die besluit teen te staan en sal voortgaan om te veg vir ’n billike, werkbare en ekonomies realistiese koringtariefbedeling.

Graan SA het die finale uitkoms van die koringtariefwysigingsondersoek verwerp, ná bevestiging in die Staatskoerant dat die Dollar-gebaseerde verwysingsprys (DBRP) vir koring onveranderd op US$279 per ton sal bly en geen outomatiese snellermeganisme geïmplementeer sal word nie.

Die aansoek, wat deur Graan SA en die South African Cereals and Oilseeds Trade Association (SACOTA) ingedien is, het versoek dat die koringverwysingsprys van US$279/ton na US$289/ton verhoog word, en ’n meer doeltreffende meganisme ingestel word om vertragings tussen tariefsnellers en implementering aan te spreek.

Geen van die kernversoeke wat deur die bedryf ingedien is, is goedgekeur nie, het Graan SA in sy reaksie gesê.

Die organisasie sê hy beskou die besluit as ’n groot terugslag vir koringprodusente en vir die langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrika se plaaslike koringbedryf.

“Ons is nie tevrede met hierdie uitkoms nie, en ons aanvaar nie die redenasie waarop dit gebaseer is nie,” sê dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA. 

“Die besluit weerspieël nie die werklikheid op koringplase regoor Suid-Afrika nie. Produsente is onder druk weens stygende insetkoste, wisselvallige markte, hoë finansieringskoste, logistieke uitdagings en onregverdige internasionale mededinging. Om voor te hou dat die huidige raamwerk voldoende beskerming bied, stem eenvoudig nie ooreen met wat produsente ervaar nie,” het Doyer gesê.

Graan SA sal nou ander opsies ondersoek om die besluit teen te staan en sal voortgaan om te veg vir ’n billike, werkbare en ekonomies realistiese koringtariefbedeling.

Daar word van Suid-Afrikaanse koringprodusenteverwag om in ’n wêreldmark mee te ding waar baie internasionale mededingers voordeel trek uit aansienlike staatsondersteuning, direkte en indirekte subsidies, en gunstiger beleidsomgewings. Plaaslike produsente ontvang geen vergelykbare ondersteuning nie, maar daar word steeds van hulle verwag om die produksierisiko te dra, gehaltestandaarde te handhaaf, kostestygings te absorbeer en mee te ding teen invoere wat in ’n sterk verwronge wêreldmark geprys word. Hierdie besluit sê in werklikheid vir produsente dat hulle onder toenemend moeilike omstandighede moet aanhou produseer, terwyl hulle onvoldoende beleidsondersteuning ontvang,” sê Doyer. 

As Suid-Afrika plaaslike koringproduksie wil hê, moet beleid die realiteite van koringproduksie in hierdie land erken het Graan SA die afgelope week in sy verklaring genoem.

Die organisasie is veral bekommerd dat die huidige beleidsbenadering die gehaltestrategie ondermyn wat Suid-Afrika se koringbedryf hard gewerk het om te handhaaf.


Verbruikers mag glo dat beperkte tariefbeskerming hulle op kort termyn bevoordeel, maar die langtermyn gevolge van dalende plaaslike produksie sal uiteindelik deur die hele land gedra word.

“Koringprodusente vra nie vir spesiale behandeling nie,” sê Doyer. “Hulle vra vir ’n billike kans om te oorleef, mee te ding en voort te gaan om voedsel vir Suid-Afrika te produseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button