Local newsNews

Ernstige kommer oor R59: Oordrag na SANRAL steeds nie in staatskoerant

Die roete dra daagliks swaar verkeer en is 'n belangrike ekonomiese slagaar vir inwoners in die Ngwathe munisipale gebied.

Die voortgesette agteruitgang van die provinsiale R59-roete – die belangrikste vervoerkorridor wat Parys, Vredefort en die omliggende Ngwathe-gebied met die res van die provinsie verbind, wek ernstige kommer.

Die roete word daagliks deur toeriste en inwoners gebruik, maar is ook ‘n ekonomiese lewensaar waarlangs verbruikersgoedere en landbouprodukte vervoer word. Met die spoorwegnetwerk wat grotendeels in onbruik verval het, het padvervoer onontbeerlik vir die plaaslike ekonomie geword.

Inwoners, sakeondernemings en padgebruikers waarsku reeds jare lank oor die gevaarlike toestand van die R59. Slaggate, verslete padoppervlaktes en ‘n gebrek aan behoorlike instandhouding verhoog die risiko van ongelukke en voertuigskade, terwyl dit ook toerisme en beleggings ontmoedig, het Carina Serfontein, die DA se burgemeesterskandidaat vir die Ngwathe munisipaliteit, die naweek gesê.

Gazette het vroeër vanjaar berig dat die verantwoordelikheid vir die R59, ná volgehoue openbare druk oor die swak toestand van die pad, van die Vrystaatse Provinsiale Regering na SANRAL oorgedra sou word. Hierdie oordrag is egter steeds nie in die Staatskoerant gepubliseer nie, en geen ooreenstemmende begroting is beskikbaar gestel om SANRAL in staat te stel om die roete oor te neem nie.

‘n Vorige instandhoudingskontrak, wat vereis het dat studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) praktiese opleiding moes ontvang eerder as dat moderne konstruksiemetodes toegepas word, het klaaglik misluk. Herstelwerk was dikwels van swak gehalte, en die gebrekkige vakmanskap het bygedra tot gevaarlike padtoestande.

Hoewel ‘n professionele kontrakteur later die aanvanklike span vervang het, was die jaarlikse instandhoudingsbegroting teen daardie tyd reeds uitgeput. Sedert Maart kon slegs noodherstelwerk uitgevoer word.

Slaggate op die R59 wek ernstige kommer vir die vieiligheid van motoriste. Foto verskaf deur die DA
Slaggate op die R59 wek ernstige kommer vir die vieiligheid van motoriste. Foto verskaf deur die DA

Volgens jongste berigte is ongeveer R8 miljoen aan SANRAL beskikbaar gestel vir padherstelwerk regoor die Fezile Dabi-distrik. Warm asfalt sal na verwagting vanaf volgende week beskikbaar wees vir die herstel van slaggate. Hoewel enige herstelwerk verwelkom word, is hierdie bedrag heeltemal onvoldoende gegewe die omvang van die verval van die R59 en ander paaie in die distrik, sê Serfontein.

Sy sê die situasie word vererger deur die N1-tolhek by die Sasolburg/Parys-wisselaar. “Baie swaarvoertuie vermy tolgelde deur via die R59 deur Parys en Vredefort te ry, wat nog groter druk plaas op ‘n pad wat reeds jare lank afgeskeep word. Herhaalde versoeke dat die tolhek nader aan Kroonstad verskuif word, het tot dusver op dowe ore geval,” het Serfontein gesê.

Die DA het ‘n beroep gedoen vir:

  • Die onmiddellike prioritisering en afhandeling van die proses om die oordrag van die R59 na SANRAL in die Staatskoerant af te kondig, sonder verdere vertragings.
  • ‘n Toegewyde kapitaalbegroting vir die volledige rehabilitasie van die R59, en nie bloot tydelike herstelwerk aan slaggate nie.
  • Dat die R59 as ‘n prioriteits-ekonomiese korridor geklassifiseer word wat versnelde ingryping vereis.
  • ‘n Langtermyn-instandhoudingsprogram met meetbare tydlyne en gereelde openbare verslagdoening oor vordering.
  • ‘n Dringende hersiening van die ligging van die N1-tolhek om te verhoed dat swaarvoertuie die tolpad vermy en verdere skade aan die R59 aanrig.
  • Gereelde skakeling met plaaslike munisipaliteite, landbou-organisasies, toerismeliggame en vragvervoerders om padtoestande te monitor en herstelwerk te prioritiseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button