Lewenslange straf vir 84-jarige wat meisie (8) seksueel uitbuit
Oudio-visuele uitspraak in Vrystaatse hof 'n eerste.
’n 84-jarige man van Petrusburg is in die Bloemfonteinse streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting en seksuele uitbuiting van ’n 8-jarige meisie.
Die saak het in Julie 2024 aan die lig gekom toe ’n onderwyseres in Petrusburg bekommerd geraak het dat die meisie moontlik seksueel misbruik is deur die man wat toe 82 jaar oud was.
In die meisie se verklaring aan die polisie het dit aan die lig gekom dat die man vir haar en haar vriendinne brood, beskuitjies en koeldrank gegee het, en dat hulle in sy swembad kon swem, waarna hy haar glo verkrag het.
Volgens haar getuienis het die verkragtings in die man se slaapkamer plaasgevind terwyl ander kinders toegekyk het.
Haar weergawe is deur twee van haar vriendinne, wat die beweerde verkragting aanskou het, bevestig, sowel as deur ‘n forensiese verpleegkundige wat getuig het dat die mediese verslag ooreenstem met wat deur die kind gerapporteer is.
Volgens brigadier Thandi Mbambo, het die beskuldigde egter aangevoer dat die kinders aangesê is om valse bewerings teen hom te maak. Sy bewering is deur die hof verwerp.
Vonnisverrigtinge is oudiovisueel gehoor omdat die beskuldigde in ‘n hospitaal opgeneem is waar hy wag op ‘n operasie. Hy is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding.
Hoewel die verdediging aangevoer het dat die beskuldigde weens sy gevorderde ouderdom nie tot gevangenisstraf gevonnis behoort te word nie, het die staat die erns van die misdrywe beklemtoon en aangevoer dat die beskuldigde steeds ’n bedreiging vir kinders inhou. Die staat het ook na die slagofferimpakverklaring verwys, wat die trauma toon wat die kind as gevolg van die misdrywe ervaar het.
Die staat het ook aangevoer dat die beskuldigde se ouderdom hom nie daarvan weerhou het om die ernstige misdrywe te pleeg nie.
Landdros Matroos het daarna bevind dat daar geen dwingende en wesenlike omstandighede was wat ’n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnisse regverdig nie.
Die beskuldigde se naam is op die Register vir Seksuele Oortreders geplaas en hy is onbevoeg verklaar om met kinders te werk.



