BlogsOpinions

‘N VELDSKOOLJAAR

Liewe Persoon

 

Ek dink daar is iets in die drinkwater! Jy sien, dié jaar is nog nie eers behoorlik uit die wegspringblokke nie, en almal is reeds skuins befoeterd. Dié met titels gooi dit gevaarlik rond; dié sonder titels is net bloot roekeloos by tye en, dié wat aan hul titels (moet) werk het nog nie kom registreer nie!

Dit is voorwaar ‘n nodelose situasie.

Dit laat my baie dink aan ons veldskooljaar in Standerd 7. Hier vroeg in herfs is ons almal in ‘n bus geboender om “leierskapsvaardighede” en “kameraadskap” te gaan bemeester op Zastron.Shame, dié eindste veldskool het mos ‘n paar jaar terug tot op die grond afgebrand…

Anyway. Ons was nog nie eers uit Virginia nie toe het daar al ‘n bakleiery agter in die bus uitgebreek, ek het besef dat ek vergeet het om ekstra tissues in te pak, en die veldskool-voogde (die nuwe jong onnies wat vriendelik verplig was om die trippie mee te maak) het bleek om die kiewe gelyk. En onthou ‘n bietjie: dit was voor die dae van selfone. Ons moes noodgewonge al die pad tot in Zastron sing om die tyd om te kry (en die veglustiges in die agterste sitplekke besig te hou). Ek raak nou nog tranerig as ek “Saai die waatlemoen” hoor – om nie eens van Mariah Carey se “Hero” te praat nie!

Nou in Standerd 7 is jy nog nie eintlik mens nie – jy verlang na jou ma, jy het nog nie ‘n gepaste haarstyl ontdek nie en klein-en-fyn brilrame was nog nie ‘n craze nie. Jy (lees: ek) val lomp oor jou eie voete, giggel is aan die orde van die dag en almal is heimlik verlief op James Van Der Beek van Dawson’s Creek.

Tragies, ek weet.

Daardie veldskooljaar – 1994, was ook rof – amper soos 2017 dreig om te wees. Ons moes almal op die grond (op vreeslike dun matrasse) slaap, brood met rooikonfyt eet en twee-twee probeer om ‘n sloot vol water oor te steek terwyl ons enkels aan mekaar vasgebind was. Snags het ons met ons skoene aan geslaap – deels oor ons (lees: ek) bang was vir goggas en omdat ons soms om middernag (!) ‘n lantern moes bekruip. Tot vandag toe weet ek nie wat dié oefening my geleer het nie…

Tydens die veldskool het ‘n oud-junky ons vertel van die gevare van dwelms. Ons het nie ‘n woord gehoor wat hy probeer sê het nie: sy tattoos en piercings het ons soos soutbeelde laat verstar.

My sussie (die Juffrou) het op die foefie slide vasgesit (hoogtevrees) en ek het my nerwe weggeval toe ek oor my eie voete geval het tydens ‘n nagwaak. In kort: ons tydjie in Zastron was onvergeetlik – vir al die verkeerde redes.

Ek hoop regtig nie 2019 gaan ‘n veldskool-jaar wees nie….

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button