
Oudergewoonte is Saterdae vir my en Johan koffiewinkel dag, en selfs in ‘n nuwe dorp het ons vinnig twee gunsteling plekkies opgespoor.
Terwyl ons rustig sit en kuier saam met ‘n goeie vriendin, en saam droom oor die toekoms, besef ek met ‘n skok dat hierdie die begin is van die sesde maand van 2020.
Ons probeer nog ons voete vind in ‘n nuwe termyn, en ons maak gereed vir die einde van ons skooljaar, en begin van ‘n warm somervakansie.
Eers wil ek hartseer en opstandig raak omdat die tyd so “onbenut” verbygevlieg het, en dit tyd is wat ons nooit weer kan terugkry nie, maar dan kom daar ‘n dankbaarheid in my op en ek besef net hoe ongelooflik geseënd ons is om te kan sê – ons is almal gesond.
As ons terugkyk, kan ons nie dink hoe ons deur hierdie tyd van onsekerheid en verlang gekom het nie. Die skuif na, en aanpassing in ‘n nuwe dorp, nuwe skool, nuwe kollegas, en steeds in ‘n vreemde land, hoewel China nie meer heeltemal vir ons die “vreemde” is nie.
Ons gaan stap deur die plaaslike mark van straatkos en klere, en die gekuier van mense is oral te sien. Klein restaurantjies is nog bietjie stil, maar die strate lyk weer soos altyd. Gesinne speel weer in die park. Kinders lag en mense dans in groepies. Elkeen met hul eie styl en keuse van musiek.
Hier en daar is daar die ouer persoon wat hul tradisionele musiek speel en sing, want hier kyk hulle jou baie snaaks aan as jy vir hulle sê jy kan nie sing nie, of dat jy nie kan noot hou nie.
Musiek staan bekend as ‘n universele taal, maar ek besef elke dag meer en meer dat ‘n glimlag in enige taal en in enige kultuur verstaan word.
Volgende stop is die haarsalon. Ek het vir Liezl belowe ek sal gaan vir ‘n haarsny sodat ek behoorlik kan terugvoer gee oor hoe hulle nou te werk gaan in die salonne.
Met ‘n prentjie op my foon en die beduie van sny met my een hand, het hulle my vinnig gehelp. Anders as ‘n maand gelede is daar geen teken van jassies en handskoene nie. Hulle dra wel nog hul maskers.
Dit lyk amper normaal.
Vir my en die haarkapper is dit masker af vir daardie oomblik. Enige haarkapper sal kan getuig dat om iemand se hare te sny met ‘n masker op, nogal ‘n uitdaging kan wees. Die ding raak vol hare en dis in die pad as jy om die ore wil werk.
Daar is salonne wat elke kliënt in sy eie hokkie sit met afskortings tussen-in en dan is daar weer dié wat hul hele salon geskuif het sodat elke kliënt op ‘n veilige afstand van mekaar is. Die naeltegnikus en die skoonheidsterapeut werk nog soos altyd met masker en handskoene aan – so dit lyk glad nie vreemd nie. Die mens is ‘n wonderlike wese. Ons is super aanpasbaar en as ons ons gesindheid positief hou, is daar werklik ‘n silwer rand om elke donker wolk. Ek glo vas dat hierdie nare afskop van 2020 sal draai en dat daar hoop vir die toekoms is!





