Oud-Volkie trek enkellopendes se aandag met unieke fotosessies
Vir die 25-jarige Potchefstroomse fotograaf Kaylen Kroese het “stranger shoots” aanvanklik net soos ’n lekker eksperiment geklink - nou is dit iets wat baie belangstelling trek.
Wat begin het as ’n kreatiewe idee wat sy op Amerikaanse sosiale media raakgesien het, het vinnig verander in een van Potchefstroom se mees opwindende nuwe neigings.
“Stranger shoots” is gevul met ongemaklike eerste ontmoetings, romantiese vonke en selfs ’n Boerboelwear-modelkontrak.
Vir die 25-jarige Potchefstroomse fotograaf Kaylen Kroese het “stranger shoots” aanvanklik net soos ’n lekker eksperiment geklink, neem twee totale vreemdelinge, sit hulle saam vir ’n “couple shoot” en kyk wat gebeur.

Maar toe begin die internet behoorlik kennis neem.
“Die videos het net begin ontplof,” vertel Kaylen. “Mense was mal daaroor omdat dit so spontaan en eg is. Niemand weet wat om te verwag nie en dis juis wat dit so lekker maak.”
Die konsep het só baie aandag getrek dat een van die manne wat aan ’n stranger shoot deelgeneem het, later deur Boerboelwear gekontak is en nou vir hulle modelwerk doen.
Kaylen is glo die eerste fotograaf in Potchefstroom wat die konsep aanpak.

Sy neem self al die foto’s én videos van die stranger shoots en het reeds ongeveer 14 fotosessies gedoen. Maar dit het nie daar gestop nie.
Die aanvraag het só gegroei dat sy begin het met “Stranger Nights” – spoedafspraak-aande waar vreemdelinge mekaar in ’n ontspanne, prettige atmosfeer kan ontmoet. Die geleenthede word by Die Akker op die Bult aangebied en die laaste geleentheid het sowat 30 mense gelok.
“Mense skryf op my webtuiste in, stuur ’n foto en beskrywing van hulself, en dan pas ek hulle baie opsetlik bymekaar,” verduidelik sy. “Ek kyk na persoonlikhede, belangstellings en wat hulle in gemeen het.”
Daar is geen spesifieke kategorieë nie, enige iemand kan inskryf.
En die formule werk.

Meer as een paartjie het reeds ná ’n stranger shoot of spoedafspraak ernstig begin uitgaan, en Kaylen sê mense lig haar gereeld in oor hoe dinge verloop.
“Dit is die oulikste deel vir my,” lag sy. “Om te sien hoe mense mekaar vind wat mekaar andersins nooit sou ontmoet het nie.”
Die Stranger Nights het ook elke keer ’n unieke tema. Die vorige een was volledig Bridgerton-geïnspireer, en Junie se geleentheid gaan weer sy eie tema hê. Gaste staan boonop die kans om ’n stranger photoshoot te wen.
Die volgende Stranger Night vind op 5 Junie plaas, en Kaylen hoop om dit uiteindelik ’n maandelikse instelling in Potch te maak.
Interessant genoeg was voltydse fotografie nooit oorspronklik deel van haar plan nie.
“Ek het altyd gevoel daar is net soveel wat jy met fotografie kan doen, jy neem foto’s en dis dit,” vertel sy. “Maar die Here het net aanhou om kliënte oor my pad te stuur. Toe begin ek besef daar is soveel meer daarin as net foto’s.”
En uit daardie besef is die stranger shoots en stranger nights gebore.

Kaylen, ’n oudleerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, sê mense in Potchefstroom praat behoorlik oor die konsep en die opgewondenheid groei met elke geleentheid.
En ironies genoeg?
Die meisie wat tans Potchefstroom help liefde vind, is self nog enkellopend.
Jy kan hier inskryf:
https://www.mementosphotography.co.za/book-stranger-photoshoot-potchefstroom
Kyk na die videos hier: https://www.instagram.com/mementos_photographyy_/reels/



