Die Luiperds het voor hul tuisskare op Olënpark, in ‘n nuwe wit trui, die Valke met 48-45 geklop in ‘n wedstryd waarin die drieë gereën het.
Die held vir die Luiperds was die agsteman, Gcino Mdletshe, wat net voor die eindfluitjie die wendrie gedruk het. Die Luiperds moes ná die sirene nog hard verdedig om die Valke net buite hul 22-metergebied te stuit. ‘n Aanslaan deur die Valke het die Luiperds uiteindelik die oorwinning besorg.
Die span van Potchefstroom moes diep delf nadat hulle vroeg in die wedstryd met 12-0 agter was danksy drieë deur Ilunga Mukendi en Zeilinga Strydom. Toe dit lyk of die Valke wou wegtrek, het die Luiperds hul kloue uitgehaal en vinnig gelykop gekom danksy drieë deur Ghudian van Rheenen en Daimon O’Connell.

Sino Tshontyi, die Luiperds se regtervleuel, kon ook sy 50ste wedstryd vir die Luiperds met ‘n drie én ‘n oorwinning vier nadat heelagter Noegh Hayward ‘n skitterende lopie gemaak het. Tshontyi se drie het die telling na 17-12 in die Luiperds se guns laat swaai. Dit het egter nie lank gehou nie, want slegs drie minute later het die Valke se haker, Sikholise Nanto, onder die pale gaan druk.
Die Luiperds het weer teruggeslaan toe Naiden Jaarts oorduik om die bonuspunt reeds in die 29ste minuut te verseker. Die Luiperds was egter met twee punte agter teen rustyd, met die telling 26-24.
Jandré Burger het die tweede helfte op die beste moontlike manier begin toe hy vanuit sy eie kwartgebied ‘n solodrie gedruk het, met die Valke wat gelyk het of hulle sement aan hul voete gehad het.
Indiphile Tyeda het die Luiperds se voorsprong tot 41-26 vergroot na ‘n opportunistiese drie. Swak verdediging het die Valke egter weer in die wedstryd gebring toe die flank, Zander van der Merwe, gemaklik deur die Luiperds se verdediging gesny het. Kelvin Kanenungo het daarna twee keer gaan druk om die Valke weer die voorsprong te gee.
Die Luiperds het egter die laaste sê gehad toe Mdletshe onder die pale gaan druk.
“Ek is bly daar is beloning vir die harde werk. Die spelers is verlig om aan die wenkant te wees,” het die Luiperds se hoofafrigter, Riaan van Straten, gesê.
Hy was egter nie tevrede met sy span se verdediging nie en wil beslis verbetering sien.
“Ek is wel bly oor die wen. Dit gee vir ons ‘n kans om steeds die halfeindstryd te haal, as ons volgende week teen Grens daar onder wen,” het hy genoem.



