Local newsNewsNews

Babs lewe voluit op 105

"Ek geniet 'n uitdaging!" was haar motto wanneer sy 'n moeilike taak voor hande gehad het.

Silwer in die hare en oë wat glinster van humor en intelligensie – dit is die indruk wat die 105-jarige Babs Cornelius, ‘n inwoner van Samuel Broadbent, op ‘n mens maak.

In haar daaglikse lewe voorsien haar jongste dogter, Carlin van der Walt, vir Babs van noodsaaklike bederfies. Carlin is woonagtig in Potchefstroom.
Haar skoonseun, Wessel van der Walt, laat nie ‘n oomblik verbygaan sonder om te skerts en die draak met haar te steek nie.
Tot in Mei 2022 het tannie Babs selfstandig in haar huis by Rynpark Aftreeoord in Benoni gewoon, waarvan 23 jaar as weduwee. Haar verhuising na Potchefstroom was die gevolg van ‘n valvoorval tydens ‘n besoek aan Carlin. Haar beweeglikheid en onafhanklikheid is na die val ingeperk.

Babs se verhaal begin in Uniondale, waar sy as die eersteling van ses kinders gebore is. Kort daarna verhuis die gesin na Kestell, waar haar pa sy ambag as hoefsmid beoefen het.

Babs Cornelius woon al sedert 2022 by Samuel Broadbent. Foto: Karien Bosman

Nadat sy aan Hoërskool Kestell gematrikuleer het, voltooi sy ‘n onderwyskursus in Bloemfontein, maar ontmoet kort daarna in Pietermaritzburg die liefde van haar lewe, Carl Cornelius. Dié ontmoeting het tydens ‘n speletjiesaand plaasgevind wat deur die KJV-tak van die NG Kerk aangebied is.

Die dag waarop Carl en Babs se huweliksklokkies lui, breek op 1 Augustus 1942 aan – ‘n tyd waarin die Tweede Wêreldoorlog chaos en verwoesting saai.

Babs se dogter, Carlin van der Walt, is haar grootste steunpilaar

Weens rantsoenering en ander beperkings was nie net witmeelprodukte nie, maar ook fotografiese film bitter skaars. ‘n Dramatiese soektog na ‘n fotograaf en film het uiteindelik slegs een foto van die bruidspaar opgelewer, en teen die middag moes die witmeelprodukte reeds van die tafels verwyder word.
Gedurende die oorlogsjare was werk uiters skaars en Carl het hom by die Spoorweë aangesluit, waar hy hom van die onderste sport van die leer tot ‘n invloedryke posisie opgewerk het.

Hy het op die Uitvoerende Raad van die ATKV gedien en was betrokke by die ontwikkeling van die Kariba- en Natalia-vakansieoorde.

Babs was ‘n tuisteskepper in die ware sin van die woord. Sy het haar uitgeleef met die skep van pragtige handwerk, maar haar hart het veral by gemeenskapsdiens gelê.

Babs Cornelius en haar man, Carl. Hy is in 1999 oorlede.


“Ek geniet ‘n uitdaging!” was haar motto wanneer sy ‘n moeilike taak voor hande gehad het.
Carlin vertel dat sy en haar broer en suster streng, maar liefdevol grootgemaak is. Suiwer taalgebruik en respek vir jou medemens was ononderhandelbaar.

Tog het die lewe ook sy skerp kante na haar gedraai. Sy het haar man in 1999 en haar seun, Bertus, in 2022 aan die dood afgestaan. Retha, die oudste dogter, is in Ciprus woonagtig en is inderdaad self reeds bejaard.
Carlin en Wessel is haar ankers, maar veral put sy haar geestelike versterking uit haar geloofslewe.

Wessel van der Walt (skoonseun) saam met Carlin van der Walt (dogter) van Babs Cornelius. Foto: Karien Bosman.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button