5 Tipes kelners in Potchefstroom
Ons almal hou van uiteet. Om net bietjie te ontspan en lekker smaaklike kos of ‘n verfrissende drankie na ‘n lang dag te geniet. Basies geniet ons om bedien te word. Die snaakse deel is dat ons nie altyd weet hoe ons bedien gaan word of wie ons gaan bedien nie. Hier is vyf tipes …

Ons almal hou van uiteet. Om net bietjie te ontspan en lekker smaaklike kos of ‘n verfrissende drankie na ‘n lang dag te geniet. Basies geniet ons om bedien te word. Die snaakse deel is dat ons nie altyd weet hoe ons bedien gaan word of wie ons gaan bedien nie. Hier is vyf tipes kelners en kelnerinne wat gereeld in Potchefstroom hulle verskyning maak, restaurant na restaurant en jaar na jaar. Dit is werklik ‘n nimmereindigende siklus!
1. Lomp Louise
Pasop vir hierdie tipe kelnerin sy mag dalk net jou koppie koffie op jou omkeer of op een of ander ondenkbare wyse gedurig borde laat breek. Hierdie tipe kelnerin is ook altyd op haar senuwees en probeer vreeslik hard om nie ‘n fout te maak nie. ‘n Wenk is om so kelnerin op haar gemak te hou en nie met te veel versoeke vorendag kom nie – wees net bly dat die kos in jou bord bly en nie op jou skoot beland nie!
2. Oorgretige Odette
Hierdie kelnerin se tydsberekening is nie altyd die beste nie. Sy sal gedurig ‘n draai by jou tafel maak om seker te maak dat alles nog eksie perfeksie is. “Is die kos lekker, enige iets waarmee ek kan help?” is die outomatiese vraag presies as ‘n mens nou die lekkerste stuk hoender in jou mond het. Al wat ‘n mens dan kan doen is om jou kop te knik. Die Oorgretige Odette sal ook net as ‘n gesprek op sy lekkerste is weer hoor of alles reg is. Na sowat 5 keer in 20 minute raak dinge effens absurd. Ons sal vra en laat weet as ons iets nodig het. Geen nuus is goeie nuus in hierdie geval!
3. Stil Steven
Almal het al met ‘n Stil Steven in ‘n restaurant te doen gehad. Dis die persoon wat amper geen oogkontak maak nie, die bestelling soos ‘n robot neem en dan sonder ʼn woord die bestelling voor jou plaas. Hierdie persoon wonder meer wanneer sy skof klaar is, as oor die welstand van sy kliënte. Steven weet ook nie altyd veel van die spyskaart af nie en werk net om darem ‘n inkomste te kry. Min wetend dat meer persoonlikheid dalk ‘n ekstra fooi vir hom kan gee!
4. Grapkas Griet
Grapkas Griet is presies die teenoorgestelde van ou Steven. Griet sal gewoonlik baie vriendelik wees en baie praat. Sy weet ook alles van die restaurant af en sal met graagte voorstelle gee oor wat ‘n mens moet eet of wat die “special” is. Die bonus is dat sy ook graag ‘n grappie of twee vertel. Griet is so borrelend soos die yskoue glasie gaskoeldrank wat sy voor ‘n mens bedien.
5. Vol foute Francois
Hierdie tipe kelner maak sy verskyning gewoonlik op die interessantste tye – wanneer ‘n mens min tyd het of as ‘n mens op ‘n belangrike “date” is. As ‘n mens ‘n Hamburger sonder kaas bestel dan kry jy hom met twee snye kaas. Hy kan net glad nie die bestelling regkry nie en soms probeer hy sy bes om nie ‘n nota te maak nie, aangesien hy dink hy ‘n goeie geheue het. Die kanse is ook groot dat daar ‘n fout met die rekening sal wees. In my ervaring is hierdie kelners gewoonlik die nuwelinge wat opgelei word – wees kalm en rustig, so na die derde keer sal alles korrek wees!