In ’n afgeleë spoorwegdorp in die Karoo, in ’n tyd wat dans as ’n sonde beskou is, woon Jenny.
Daar is ’n jongman wat op Jenny verlief is. Hy kan haar nie vra om te dans nie, maar hy het elke dag vir haar ’n gedig geskryf. Dit deur ’n kraak in haar muur vir haar gelos. Hulle raak verlief en Jenny leer hom dans. Jenny trek weg en los haar beminde in sak en as. Hy word later ’n bekroonde kunstenaar. Een van die inwoners stuur vir Jenny die gedigte en sy skryf ’n boek oor die man wat vir haar die ongelooflike gedigte skryf.
Tussen die eerste dans en eerste liefde gebeur daar ’n leeftyd se stories voor Jenny en haar beminde weer bymekaar kan kom.
Hierdie is nie die storielyn van ’n nuwe roman nie, maar die konsep waarop Jan Blohm sy nuutste album getiteld Jenny, gebaseer het.
Blohm het iets besonders aangepak met hierdie album.
Volgens hom is dit iets wat al lank in sy kop broei en eendag die klankbaan van sy fliek met dieselfde naam gaan wees.
“Die album is nie net nog ’n versameling liedjies nie. Ek het baie moeite gedoen om liedjies en gedigte saam te sit om ’n storie te vertel. Dit is soos ’n fliek van Jenny se lewe,” verduidelik Blohm.
Wat kan mens verwag van die album? In kort, is dit niks anders as ’n musiekblyspel of ’n tipe van Rock opera nie.
’n Rock opera word beskryf as ‘n rockmusiekalbum of verhoogproduksie wat die gevoel van musiekdrama wat gereeld met opera geassosieer word, te probeer ontlok.
Dit is presies waarin Jan Blohm met hierdie album slaag.
Sommige van die enkelsnitte soos Jenny en Ou Karoo van die album, is reeds bekendgestel.
Blohm aanhangers het dadelik by hierdie enkelsnitte aanklank gevind. Tog is al veertien snitte op die album ’n juweel op sy eie wat perfek in die kroon van Jenny inpas. Selfs mense wat nie noodwendig aanhangers van Blohm is nie, sal baie van die snitte geniet.
In terme van musikale genres is daar ’n verskeidenheid wat die verskillende fasette van die storie wat vertel word, mooi uitbeeld. Daar is die bekende Jan Blohm snitte soos Dawid en Soos ‘n lady, terwyl Blohm ’n meer ‘folk- roots’ roete volg met Lallie (wat deur Koos Kombuis geskryf is) en Sannie van der Spuy. Daar is groot rock ballades in die vorm van Dans my deur ‘n veldbrand (wat saam met Geraldine Fourie geskryf is) en dan die groot Soul nommers soos My beminde.
Amper iets vir almal, soos dit met ’n goeie musiekblyspel behoort te wees.
“Dit is die eerste keer wat ek voel ek het ’n album reggekry wat iets beteken. Ek is baie opgewonde, maar dit was ’n groot risiko wat ek gevat het,” vertel Blohm.
In ’n vorige onderhoud met die Herald het Blohm verseker dat hy homself nie as ’n digter ag nie. Alhoewel, met die nuutste werk wat hy beplan om in ’n film te omskep, kan mens nie anders as om die digkuns in die album raak te sien nie. “Ek het baie vroeg in my lewe besluit dat my musiek nie oor politiek sal gaan nie, maar oor menslike struweling. Baie van die tipe struwelinge gebeur binne in onsself,” vertel Blohm.
Met elke volgende snit kan jy nie anders as om te wonder hoe pas die karakters in die kleurvolle storie wat Blohm geweef het bymekaar nie. Jenny, Nonnie, Sannie van der Spuy, Sam, Jan de Vos en Dawid is name wat uit die snitte opkom.
“Dawid is Jenny se broer wat op die grens dood is. Nonnie is wat Jenny se ouers haar genoem het. Die res is maar name wat mens uitdink, soos enige ou wat ’n storie skryf,” verduidelik Blohm.
Jan het sowat ’n jaar aan die album gewerk, en alhoewel hy glo dit is dalk ’n risiko, blyk die eerste indrukke dat dit ’n risiko is wat gaan uitwerk.
Die album is Vrydag, 17 Julie amptelik bekendgestel en is op alle digitale platforms beskikbaar. Om dit te vier, het hy ‘n spesiale solo akoestiese aanlyn-konsert gehou wat regstreeks op sy Facebook-blad gestroom was.




