Duet-gemeente wys inwoners hoe om paaie self te herstel
Die Duet-gemeente hou Saterdag, 29 Junie om 10:00 weer ‘n demonstrasie vir inwoners om te wys hoe maklik dit is om gate in paaie te vul.

Die Duet-gemeente hou Saterdag, 29 Junie om 10:00 weer ‘n demonstrasie vir inwoners om te wys hoe maklik dit is om gate in paaie te vul. Inwoners wat dus moedeloos op die munisipaliteit wag en self hul woongebiede se paaie weer veilig en toeganklik wil maak, kan hierdie Saterdag die demonstrasie op die hoek van Republiek- en Roseltstraat in Bailliepark bywoon.
Johan Botes, ‘n gemeentelid van Duet, sê dis baie maklik as jy eers weet wat die proses behels. Jy het ook nie duur toerusting nodig nie. “Al wat jy nodig het is ‘n graaf, pik, besem, emmer water, spatkwas en stamper,” sê hy. Dit is ook belangrik om ‘n goeie kwaliteit teer (Cold mix) en die SS60 vloeibare bindingsmiddel te gebruik. Dié gemeente is bereid om die teer en SS60 in kleiner hoeveelhede aan inwoners te verkoop. Belangstellendes wat Saterdag die demonstrasie bywoon, moet onthou om ou klere aan te trek en handskoene saam te bring. Die volgende sewe maklike stappe sal aan die toeskouers gedemonstreer word:
STAP 1: Kap alle los teer in en om die rand van die slaggat af.
STAP 2: Maak seker dat alle los klippies en grond wat in die slaggat is, verwyder word.
(Die oppervlak moet skoon wees)
STAP 3: Was die slaggat uit met ‘n bietjie water.
STAP 4: Smeer SS60 in die slaggat en om die rand (SS60 is die produk wat die koue teer heg).
STAP 5: Vul die slaggat met koue teer sodat dit gelyk met die padoppervlak is.
STAP 6: Stamp die koue teer deeglik vas.
STAP 7: Smeer SS60 rondom slaggate wat herstel is.




