Hawelose in vragmotorongeluk by N12-brug doodgery
Polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag nadat die vragmotorbestuurder glo oor die hawelose gery het.

‘n Hawelose man is vanoggend omstreeks 09:00 doodgery nadat die bestuurder van ‘n vragmotor glo beheer verloor het op die hoek van Beyers Naudelaan en die N12 in die rigting van Klerksdorp.
Volgens NW polisiewoordvoerder, Kapt. Aafje Botma is die man op die toneel oorlede. Dit kon nog nie vasgestel word of die hawelose man wel op die sypaadjie gelê het tydens die ongeluk nie.
ER24 nooddienste, polisie en ander relevante rolspelers was op die toneel. Die pad was vir ‘n geruime tyd gesluit terwyl polisie met ‘n ondersoek besig was.
Die pad is tans weer oop vir verkeer.
Kapt. Botma het bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag ondersoek word.



