Volkies groet hul hoof na 37 jaar loopbaan in die onderwys
Onderwys was vir mnr Terry Nicholenas ‘n roeping en hy is vereer vir sy insette en die verskil wat hy by Volkies gemaak het.
Hoër Volkskool Potchefstroom het hierdie week hulle uittredende hoof, mnr. Terry Nicholenas, gegroet.
Maandag, 29 Januarie het mnr. Nicholenas na ‘n lang onderwysloopbaan van 37 jaar, waarvan ses jaar as Volkies se hoof, sy laaste saalopening hanteer.
Mnr. Gerhard Swart sal vanaf 1 Februarie as waarnemende hoof optree.
“Mnr. Nicholenas was deur en deur ‘n onderwysman. Hy was van die begin van sy loopbaan af betrokke om die onderwys te dien,” vertel Swart.

Onderwys was vir Nicholenas ‘n roeping en hy is vereer vir sy insette en die verskil wat hy by Volkies gemaak het.
Video: Volkies Potch/Facebook
As hoof, het hy die personeel en leerders ‘n laaste keer toegespreek:
“Julle het nie net my werksdoelwitte as hoof makliker gemaak nie, maar ook my lewe verryk met julle entoesiasme, harde werk en julle passie vir leer,” het hy tydens die saalopening genoem.
Mnr. Nicholenas het ‘n klompie hoogtepunte van die afgelope ses jaar gedeel, en die leerders daaraan herinner om met trots hulle arendsvlerke te sprei.

‘n Spesiale geskenk is deur die hoofleiers, Dewald Groenewald en Anke Viljoen aan hom oorhandig, en hulle het ook die kans gehad om namens die leerders amptelik te groet.
Na afloop van die saalseremonie, het mnr. Nicholenas deur ‘n erewag gestap om die klok te lui wat in die gedenktuin staan om sy tyd by Volkies op gepaste wyse af te sluit.
Volkies wens hom en sy vrou ‘n geseënde aftrede en rustige tyd toe, met genoeg tyd vir hulle kinders en kleinkinders wat hulle so na aan die hart lê.




