Local news

Solidariteit stuur brief aan NWU oor beweerde rassediskriminasie

Van die verlangde prestasieaanwysers is dat daar glo 80% swart mense in vakante poste aangestel moet word.

Die vakbond, Solidariteit, het op Donderdag, 1 Februarie ‘n aanmaning in die vorm van ‘n brief aan die Noordwes-Universiteit gerig rakende beweerde praktyke van rassediskriminasie.

Dit nadat dit aan die lig gekom het dat die NWU glo nuwe sleutelprestasie-aanwysers aan afdelingsbestuurders van akademiese en ondersteuningspersoneel uitgereik het.

Van hierdie voorskrifte is dat glo 80% van aanstellings swart persone moet wees en om ook die hoeveelheid swart werknemers in die algeheel te verhoog. Daar word ook verwag dat 2% van aanstellings mense met gestremdhede moet insluit.

Volgens Solidariteit is dit ongrondwetlik dat sulke prestasie-aanwysers toegeskryf kan word aangesien die teikens slegs een ras in isolasie bevoordeel.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit noem dat die NWU moet verklaar waarom hierdie prakyke bevorder word.

“Hierdie direktiewe wat deur die NWU voorgeskryf is, is absoluut skokkend. Daar word as’t ware ʼn bonus aan bestuurders betaal om stelselmatig van wit werknemers ontslae te raak.

“Jy kom slegs in aanmerking vir ʼn bonus indien jou afdeling streng aan die onbuigsame voorgeskrewe rassedemografiese kwotas voldoen. Dit is onaanvaarbaar en sulke blatante rassisme moet onophoudelik beveg word,” sê Van der Bijl.

Die vakbond het die NWU 10 dae gegee om die bogenoemde voorskrifte teen 9 Februarie te herroep. Solidariteit dreig ook om regstappe te neem as hierdie voorskrifte ten opsigte van prestasiebeoordelings nie herroep word nie.

“Internasionale voorskrifte oor rasseprogramme vereis dat dit genuanseerd en buigsaam moet wees. Ekonomiese en sosiale werklikhede moet groter belang geniet by die opstel van só ʼn beleid.

“Die NWU se beleid kom egter neer op harde rasseverdeling sonder daardie buigsaamheid of enige genuanseerdheid. Ons kan en sal dit eenvoudig nie aanvaar nie,” sê Van der Bijl.

Die NWU het op Vrydag, 2 Februarie bevestig dat hulle die brief van Solidariteit in ontvangs geneem het en dat die saak tans aandag geniet.

“Die universiteit (NWU) sal die saak direk met Solidariteit, in ooreenstemming met ons prosesse hanteer,” het NWU woordvoerder, Louis Jacobs, verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button