Local news

Moontlike omdraaipunt vir haglike omstandighede in skole

Dit blyk asof daar uiteindelik 'n draaipunt kom in die geveg vir beter badkamerfasiliteite by Promosa Sekondêr.

Angelo Howard en pastoor John McDonel, inwoners in Promosa, is bekommerd oor die haglike toestand waarin die badkamer-fasiliteite by Promosa Primêr en Promosa Sekonêr is.
Beide Howard en McDonel sê dat die badkamers vir meer as ‘n jaar reeds in hierdie toestand is. Howard en McDonel het nie self kinders in die skole nie, maar wil graag die probleem aanspreek met die oog op die gesegde, “my kind is jou kind”, aangesien hul bekommerd is oor die veiligheid en gesondheid van die kinders in hul gemeenskap. Hul hooffokus is Promosa Sekondêr, aangesien dit die mees problematies is. “Ons het albei gematrikuleer aan Promosa Sekondêr,” merk McDonel op.
“Ons wil sien dat die skool se infrastruktuur onderhou word sodat die skool se naam hoog gehou kan word.” Howard sê voorts dat dit hul manier is om terug te ploeg wat die skool vir hul beteken het.

Die badkamers hou gesondheidrisikos vir die leerders in. Foto: Verskaf.

McDonel voeg by dat die toestand van die badkamers by Promosa Sekondêr groot gesondheidsrisiko’s vir die leerders inhou. “As mens kyk hoeveel infeksies die leerders kry is dit skokkend, veral die dames,” verduidelik McDonel. “Hul kan nie daardie fasiliteite gebruik nie, dit maak hulle siek.”
Die badkamers se toestand is werklik skokkend.
Die wasbakke het nie krane of seep sodat leerders hul hande kan was nie, die plafon is op plekke afwesig, die toilette is vuil en daar is op die mure en deure van die badkamer geskryf. Howard erken dat die toestand van die badkamers, veral die geskryf op die mure en deure, aan die leerders toegeskryf kan word.

Die stort het beter dae geken. Foto: Verskaf.

“Dis die leerders self wat dit so verniel. Dis maar hoe dit is. Die kinders word in hierdie omgewing groot en hul gaan sulke goed doen.” Howard voeg by dat die skool kan reël dat iemand buite die badkamers sit om seker te maak dat die leerders nie die badkamers beskadig nie.
“Die badkamers moet eintlik toegemaak word want dit is nie geskik om gebruik te word nie, maar as die badkamers toegemaak word moet die skool toegemaak word,” verduidelik McDonel. “Mens kan nie so ‘n fasiliteit hê en nie voorsiening maak vir badkamers nie.”
McDonel voeg as ‘n nagedagte by dat daar mobiele toilette voorsien is aan die werkers wat tans die asbestos-geboue by Promosa Sekondêr verwyder.
“As daar mobiele toilette aan hulle voorsien is, wys dit vir jou dat die badkamers nie geskik is om gebruik te word nie.”
Pastoor Layton Hills, ondervoorsitter van Promosa Sekondêr se beheerliggaam, noem dat hul as beheerliggaam onlangs oorgeneem het en besig is met ‘n proses om verskeie probleempunte by Promosa Sekondêr aan te spreek. “ Die proses om die asbestos-geboue te verwyder is tans op pad, waarna die ander probleme hanteer sal word,” verduidelik Layton. “Ons is besig om die probleem-badkamers aan te spreek. Die beheerliggaam gaan iemand kry om na die badkamers te kom kyk sodat die beheerliggaam ‘n kwotasie kan ontvang vir die herstelkoste daarvan.”

Dele van die plafon word vermis. Foto: Verskaf.

Layton voeg by dat daar ongelukkig nie personeel is wat die badkamers kan dophou nie.
Kinders is kinders, vandalisme sal altyd gebeur. Dis moeilik om ‘n oog te hou op die kinders aangesien personeel moet klasgee,” sê Layton.
Die nuwe beheerliggaam hoop egter om ‘n nuwe blaadjie te kan omslaan vir Promosa Sekondêr.
“Ons wil mense inspireer om goed reg te doen, ons wil alles daar regruk om beter fasiliteite vir die kinders te kan bied,” merk Layton op. “Ons hoop om ouers gerus te stel dat ons werklik ons beste doen om die saak op te los.”
Die Departement van Onderwys se woordvoerder Mphata Molokwane noem dat die opvoedkundige sektor nie net na badkamer-geriewe by skole kyk nie, maar in die omliggende gemeenskap ook.
“As departement doen ons ‘n beroep op die hoofde van skole om die skoolgeboue en badkamergeriewe in stand te hou, aangesien instandhouding goedkoper is om te onderhou.”
Molokwane voeg by dat die departement oplossings aan Promosa Sekondêr sal bied sodat die leerders behoorlike badkamergeriewe kan hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button