Local news

Eikeboom sonder toestemming afgekap

Die munisipaliteit, met die ondersteuning van die Historiese Eikelaning Belangegroep, het glo 'n klag teen die persoon gelê wat die boom afgesaag het.

Die Historiese Eikelaning Belangegroep het hulle hande in hul hare oor lede van die publiek wat eikebome in Potch sonder toestemming afgekap het.

Die nuutste geval het Donderdag, 14 Maart dié belangegroep se aandag getrek. ‘n Boom is in Beyers Naudélaan afgekap, glo omdat dit ‘n advertensiebord versper het.

Die Herald kon nog nie met die besigheidseienaar wat na vermoede verantwoordelik is, in kontak tree nie.

Die boom is nou net ‘n stomp.
Die Eikeboom is sonder toestemming afgesaag. Die munisipaliteit met die ondersteuning van Eikelaan komitee het besluit om ‘n saak teen die persoon te maak wat die boom afgesaag het.

“Een van die eienaars van ‘n besigheid het die boom klakkeloos afgekap. Dit is vir ons ‘n probleem dat mense van die eikelaan se bome afkap. Ons is tans in die proses saam met die munisipaliteit om regsaksie teen die eienaar te neem. Ons sukkel al ‘n geruime tyd met die publiek wat die bome gebruik om advertensies teen vas te spyker en is van mening dat beskadiging van die bome wetlik aangespreek moet word,” noem Jolita Jansen van Rensenburg, voorsitter van die Historiese Eikelaning Belangegroep.

Die huidige belangegroep het in 2017, onder leiding van Heritage Potchefstroom

Erfenis, tot stand gekom.

Dié groep bestaan uit verskeie rolspelers wat verseker dat die eikelaan bewaar word.

Die eikelaan wat oor sowat 7 km strek, is ‘n historiese landmerk en is reeds in 1977 as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Eikebome bied baie voordele vir die omgewing.

Een eikeboom kan tot 4,5 kg besoedeling per jaar opneem. Eikebome het ook ‘n potensiële lewensduur van 400 jaar.

Die Herald het ‘n navraag aan die J.B. Marks Munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

* Die publiek kan ook die J.B. Marks Parke-afdeling by (018) 299 5444/5713 (werksure) of by (018) 299 5347/6255 (na-ure) kontak vir enige noodgevalle oor bome.

Related Articles

 
Back to top button