Local news

Pitbull-saak op instruksie na streekhof verskuif

Twee jaar na die voorval sal die Pitbull-saak nou verder in die streekhof aangehoor word nadat die Direkteur van Openbare Vervolging instruksies aan die staat verskaf het.

Die verhoor van die saak teen die eienaars van pitbull-honde wat ‘n huishulp, Dipuo Kokolosi, op 25 Januarie 2022 verskeur het is weer vanoggend (Dinsdag, 26 Maart) uitgestel, die keer sodat dié saak na ‘n streekhof oorgeplaas kan word. Dit is sodat ‘n streekhofdatum vir verhoor bepaal kan word.

Die staataankler, Nathasia Oeschger, het aangevoer dat die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) eers op Maandag, 25 Maart instruksies gegee het om die saak na ‘n streekhof oor te plaas vanweë die erns van die voorval en dat ‘n swaarder straf opgelê kan word. Sy het ook verwys na die mediadekking wat hierdie saak geniet, as een van die redes dat die saak na ‘n streekhof oorgeplaas moet word.

Die DOV het ‘n advokaat, Jessica Molefe, aangestel om die saak verder namens die staat te voer.

Chandré Mostert (née Van der Linde) en Marno Mostert word beide ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede aangekla. Daar word beweer dat hulle nalatig was.

 Hul regsverteenwoordiger, Malan Schutte, het die staat teengestaan en nie saamgestem dat die saak na ‘n streekhof oorgeplaas moet word nie. Hy was van mening dat die staat gereed moes wees om met die verhoor te begin en dat daar geen rede is waarom die saak nie in die stadsaal (distrikhof) kon voortgaan nie. Hy het ook na die Strafproseswet (seksie 342A) verwys wat rakende onredelike vertragings in verhore handel, om sy punt te staaf.

“Die staat het nie hulle eende in ‘n ry nie. Dit is die soveelste keer wat die saak uitgestel word. My voorstel is dat die saak eers van die rol geskrap moet word,” het hy aan landdros, Paul Monyamane, genoem.

Chandre en Marno Mostert, gesels met hul regsverteenwoordiger, Malan Schutte, buite die hof.

Monyamane het daarteen besluit om die saak van die rol te skraap, omrede die instruksies van die DOV as die groter bydraende faktor in hierdie geval beskou is en dat die hof nie besluite teen daardie instruksies wil maak nie. Hy het ook genoem dat dit ‘n moeilike besluit is omdat beide die klaer sowel as die aangeklaagdes in ag geneem moet word.

“Dit is nodig dat die relevante persone van die DOV ook teenwoordig is wat die instruksies gegee het om die saak na die streekhof te skuif. Om die saak uit te stel sal geleentheid gee om ‘n streekhofdatum te kan allokeer,” het hy verduidelik.

Schutte het ook aangevoer dat sy kliënte nie elke keer verlof kan neem om in die hof te verskyn nie, veral in ag genome dat die saak al telkemale uitgestel is.

Hy noem ook verder dat die staat tydens die voorverhoor in September 2023, alreeds genoem het dat hulle gereed was om met die verhoor te begin.

Die staat was nie vandag in besit van die klagstaat nie. Verdere redes vir uitstel volgens die staat was omdat hulle ook vir ‘n J88 vorm moes wag wat mediese bewysstukke bevat. Dit was glo problematies vir die ondersoekbeampte om die dokter in die hande te kry. Van die staatsgetuies was ook nie vandag by die hof nie.

Dipuo Kokolosi en haar broer, Joseph Modise, was by die hof vandag. Hy noem dat Kokolosi se operasie vir haar wonde wat in Januarie by die Chris Hani-Baragwanath hospitaal sou plaasvind, herskeduleer is na 8 April.

Sy is nog steeds in baie pyn en dra fisiese en emosionele letsels na die voorval.

Die familie van Kokolosi het ook bevestig dat hulle besig is om ‘n siviele eis ook van stapel te stuur.

Dipuo Kokolosi, wie se gesig in die Pitbull-aanval geskend is, maar met haar broer, Joseph Modise, voor die hof. Foto: Wouter Pienaar.

Hoe het alles gebeur?

Die Mostert’s se huishulp, Kokolosi, wat op die dag van die voorval (25 Januarie 2022) vir hul gewerk het, is op hul perseel in Kockstraat aangeval.

Die honde het haar neus, lip, en oorskulpe afgeruk en ook ander dele van haar liggaam gebyt. Een van die staatsgetuies, Ziggy Abdullah, ‘n buurman van Van der Linde, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.

Dustin Wetdewich, nog ‘n buurman en staatsgetuie, was ook daardie dag op die toneel en het saam met Abdullah vir Kokolosi in haar nood gehelp.

Kokolosi het maande in die hospitaal deurgebring sodat haar wonde kon genees. Sy het ook talle rekonstruktiewe operasies in die afgelope 2 jaar ondergaan.

Tydlyn van die hofsaak:

  • 6 Julie 2023: Marno en Chandré Mostert verskyn vir die eerste keer in die hof. Die saak is na 1 Augustus uitgestel en toe weer tot 22 Augustus.
  • 22 Augustus 2023: Eerste voorverhoor word uitgestel om die staat kans te gee om die dossier te bestudeer.
  • 11 September 2023: Daar word ooreengekom dat die verhoor tot November uitgestel word omrede Chandré (toe van der Linde) en haar lewensmaat, Marno in Oktober sou trou en op wittebrood sou wees.
  • 6 November 2023: Die verhoor is uitgestel weens ‘n foutiewe opnamemasjien. Daar is bepaal dat die verhoor op 9-10 Januarie 2024 sou voortgaan.
  • 9 Januarie 2024: Die saak is uitgestel om die verdediging kans te gee om ‘n bykomende klag op die klagstaat te bestudeer. Die saak word na 26-27 Maart 2024 uitgestel.
  • 26 Maart 2024: Die verhoor word uitgestel sodat die saak na ‘n streekhof oorgeplaas kan word. Dit is volgens instruksies van die Direkteur van Openbare Vervolging aan die staat. Dit is sodat daar ‘n streekhofdatum bepaal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button