Local news

Twee vroue gee harte en hande vir kankerlyers

Tannie Christa Cloete het onlangs haar 100e poppie gebrei, en tannie Ella Burgers brei al vir 10 jaar poppies.

Twee vroue met harte vir kankerlyers, tannie Ella Burgers en tannie Christa Cloete, gebruik hul brei-talent en tyd om poppies te brei wat aan kankerlyers by Wilmedhospitaal gegee word wanneer hul die kanker oorwin het.
Tannie Christa, nou 75 jaar oud, was ‘n bekende gesig op die Noordwes-universiteit (NWU) se Potchefstroom kampus. Sy het in 1980 by die NWU se Kunste kantoor begin en het vir 40 jaar by die NWU gewerk. Sy woon boonop al 52 jaar in Potchefstroom.
Tannie Christa, wat in 2018 met die projek begin en onlangs haar 1000e poppie gebrei het, vertel meer oor hoekom sy die projek aangepak het.
“My boetie is in 2018 oorlede aan kanker. Ek het my man in 2017 aan kanker verloor nadat ek vir drie jaar dag en nag in ICU by Mediclinic gesit het.”

Tannie Christa Cloete en haar 1000e poppie. Foto: Cornelia Hitge

Tannie Christa noem hier dat sy van haar poppies ook vir Mediclinic skenk. “Ek en my sussie het 12 jaar gelede vir my swaer gaan kuier wat ‘n vreeslike stryd met kanker gehad het. Ons het hom gesien net voor hy oorlede is en hy het vreeslik gelyk. Daardie aand terwyl ek in die bed lê het ek besef ek doen nie genoeg vir kankerlyers nie.”
Tannie Ella het die projek omtrent 10 jaar gelede aangepak en is reeds 92 jaar oud. Sy bly al vir 14 jaar by die Dienssentrum en is dankbaar dat sy nog gesond genoeg is om die poppies te kan brei. “Dit gee my ‘n doel en hou my hande besig,” merk tannie Ella op. “Ek hou nie daarvan om net te sit nie.”
“Ek kan mense nog laat glimlag met die poppies wat ek brei,” verduidelik tannie Ella. “Dit maak my so gelukkig as ek kan sien hoeveel geluk my poppies vir ander bring. Dit bring my groot, groot vreugde om dit te kan doen.” Tannie Ella verduidelik dat sy haar poppies uniek maak. “Nie een poppie het dieselfde gesig nie, nes ons mense ook nie dieselfde lyk nie.”
Betsie van der Westhuizen, die maatskaplike werker by die Dienssentrum, merk op dat tannie Christa se poppies ook nie eenders lyk nie.
Albei vroue noem dat hul ‘n poppie binne ‘n dag kan maak.
Tannie Christa noem dat ‘n kankerhuis in Durbanville ook graag poppies wil hê om op die beddens van kinders wat chemo ontvang te sit. “Ek doen dit alles uit my eie sak uit, maar gelukkig ken ek vir Nawaaz van Romy’s Habby. Ek koop al my voorraad daar en hy gee my ook baie voorraad gratis. Sy bydrae tot kanker help my baie.”
Lou Kruger, ‘n Potchefstromer en bestuurder van Midway busse, het een van tannie Ella se poppies ontvang en dit het sy hart aangeraak. “Die oomblik as jy hoor jy
het kanker is dit ‘n alleen pad wat jy stap. Net jy, jou gedagtes en jou vrese. Al wat jy het om aan vas te klou is jou geloof. Dis operasies en dokters en dan bestraling of chemo.
“Niemand weet regtig hoe jy voel en wat jou vrese is nie. Dan kom jy by die Onkologie-eenheid en besef daar is so baie mense wat baie sieker as jy is. Vir ‘n maand of twee kry jy bestraling, elke dag dieselfde roetine en jy word vir daardie tyd net sieker en sieker, en dit nadat jy eintlik gedink het jy sal nou begin beter voel. Die dag as jy jou laaste bestraling kry is ‘n groot dag. Net jy en jou ink merkers op jou liggaam waar jy bestraling ontvang het bly oor. Groot was die verrassing toe die Onkologie personeel vir my ‘n gebreide poppie gee. Dis iets om aan vas te hou. Iets tasbaar om jou te hehinner aan wat jy deurgemaak het. Dis ‘n teken van hoop. Dis al wat jy kan wys van jou kankerstryd. Die poppie is vir my baie kosbaar. Dankie vir mense wat dit doen om ons hoop te gee,” deel Lou sy getuienis.

Lou Kruger, Midway Busse se bestuurder, met een van Tannie Ella Burgers se skeppings. Foto: Verskaf.

Celia du Plessis, wat ook by die Dienssentrum werk, bevestig dat dit ‘n baie spesiale inisiatief is wat werklik ‘n verskil in mense se lewens maak.
So het twee vroue met omgee-harte reeds soveel goed in ander se lewens gebring.

Related Articles

 
Back to top button