Local news

Tweejarige met lukemia gediagnoseer- ma pleit vir hulp

Damian ontvang nou al vir drie maande lank behandeling en hy reageer goed op die chemoterapie.

Daar min dinge so tragies soos wanneer ‘n kind met kanker gediagnoseer word.

‘n Jong ma van drie klein kindertjies se lewe het vroeër vanjaar in ‘n oogwink verander toe haar jongste wat skaars twee jaar oud is, met kanker gediagnoseer is.

Monique Steyn vertel van die groot skok wat hulle soos ‘n orkaan op daardie dag in Julie getref het.

“As ma verwag jy nooit so iets nie. Ek het gedink sy koors, oorinfeksies en geswelde mangels is net kindersiektes. Nooit in my wildste drome sou ek kon dink dat dit iets so ernstig soos kanker is nie.”

Die tweejarige Damian het die oulikste glimlaggie, en selfs op sy moeilikste dae kan sy gesiggie ’n hele vertrek ophelder.

“Ten spyte van die pyn en ongemak, skyn sy innerlike krag deur. Wanneer hy die verpleegsters met ‘n drip sien kom, skree hy kliphard. My seuntjie is ‘n vegter. Hy weet wat kom, selfs wanneer ons net naby die hospitaal ry. Hy is so slim en dit breek my hart dat hy op so ‘n jong ouderdom die realiteit van sy situasie verstaan. Tog, te midde hiervan, het Damian se liefde vir mense nie vervaag nie. Hy spring in die arms van enigiemand wat bereid is om hom vas te hou en ek is dankbaar dat hierdie reis nie sy vertroue of sy pragtige gees weggeneem het nie,” gaan Monique voort.

Teen die einde van 2023 het ‘n MRI-skandering onthul dat Damian ‘n hoë koors en ‘n infeksie in sy mangels het. Hy het ook middeloorinfeksie gehad, wat almal gedink het net deel was van die gewone kindersiektes. Sy mangels was vergroot, wat sy middeloor toegedruk het. Dit was onmoontlik om te dreineer.

Die gesin het in Mei voortgegaan met grommets vir sy ore, maar toe een van hulle uitval, het dit ‘n gat agter gelaat en Damian het gesukkel om te hoor. Die gesin het gedurig die dokter besoek. Tydens ‘n roetine-ondersoek vir sy mangels, het die dokter opgemerk dat Damian baie bleek lyk.

Bloedtoetse is gedoen en dit is ontdek dat sy hemoglobienvlakke gevaarlik laag is. Hy het ‘n onmiddellike bloedoortapping nodig gehad. Die volgende dag het hulle ‘n beenmurgaspirasie gedoen. Daardie Vrydag het die gesin die slegte nuus ontvang dat Damian Lukemia het.

“Ons is na die kinderkankerhospitaal gestuur, maar hulle het steeds nie geweet watter tipe leukemie dit was nie. Teen hierdie tyd was Damian al meer as ses maande siek en ons was uitgeput, desperaat vir antwoorde.

“Om die woord kanker te hoor, het soos ‘n vuishou in die maag gevoel. Ek het geweet kinderkanker bestaan, maar ek het nooit gedink dit kan met my kind gebeur nie. Die moeilikste deel van hierdie reis is om in die hospitaal te woon, weg van my ander twee kinders, wat net vier en ses jaar oud is. Hulle verstaan nie heeltemal hoekom ek vir sulke lang tye weg is nie,” vertel Monique.

Volgens haar het hulle aanvanklik gedink sy sal hulle net een of twee keer verlaat.

“Maar nou weet hulle dat wanneer ons hospitaal toe gaan, dit dae of selfs weke kan beteken. Ek mis hulle so baie en hulle mis hulle mamma. Dit is ongelooflik moeilik vir my man ook. Hy moes ophou werk om vir ons ander kinders te sorg terwyl ek by Damian in die hospitaal bly. Ons doen ons bes om alles bymekaar te hou, maar dit is ‘n voortdurende stryd.”

Damian ontvang nou al vir drie maande lank behandeling en hy reageer goed op die chemoterapie. Die dokters sê sy behandeling is op koers.

“Hierdie reis is ongelooflik moeilik, maar dit het ook my oë oopgemaak vir die ongelooflike vriendelikheid van vreemdelinge,” vertel Monique.

Indien jy ‘n bydra wil maak om die finansiële las op die gesin te verminder, kan jy vir Monique by 0734298123 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button