‘n Waterlek, net buite die La de Villie kompleks in Pieter de Villiersstraat, lek al vir meer as drie jaar en word net nie herstel nie.
Wilma Conradie, ‘n inwoner van die kompleks, sê die probleem is al menige kere en by baie verskillende mense aangemeld, maar niemand doen iets nie.
“Ek en ander inwoners het dit al menigmale by die munisipaliteit aangemeld. Ons het dit al by wyksraadslede aangemeld en hulle het dit ook persoonlik by die munisipaliteit aangemeld. Ons het selfs al privaat loodgieters se raad gevra.”
Volgens Wilma mag ‘n privaat loodgieter nie aan die probleem werk nie.
“Die munisipaliteit het al ‘n paar keer uitgekom, gekyk en dan net weer gery. Hulle het nog glad nie in drie jaar se tyd probeer om dit reg te maak nie. Die gat is al twee meter diep en iemand kan maklik daar seerkry of verdrink.”
Die water loop ‘n stewige stroom en al het die buurt nie water nie, bly die lek vloei.
Navraag is by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van publikasie is geen terugvoer ontvang nie.




