Local news

Potchefstroom-atleet vereer as voorste sportvrou

Die sportster is ook deur die LUR vir Gesondheid in die Vrystaat, Monyatso Viceroy Mahlatsi, vereer.

Liezl Gouws (25) is ‘n Paralimpiese-atleet wat in Klerksdorp gebore is en Aptekerswese in Potchefstroom aan die Noordwes-Universiteit studeer het. Sy het vanjaar verskeie toekennings opgeraap.

Liezl is by die Noordwessporttoekennings, wat op 23 November in Klerksdorp gehou is, as Sportvrou van die Jaar met ‘n gestremdheid en Sportster van die Jaar aangewys.

Die sportster is ook deur die LUR vir Gesondheid in die Vrystaat, Monyatso Viceroy Mahlatsi, vereer met ‘n koopbewys om enigiets van haar keuse aan te skaf wat haar prestasies in haar sport kan verbeter.

Liezl werk as ‘n gemeenskapsapteker in Viljoenskroon. Sy het die afgelope jaar Suid-Afrika in verskeie internasionale kompetisies verteenwoordig, insluitend die Paralimpiese Spele.

“Die toekennings wat ek ontvang het is vir my besonders spesiaal omdat dit regtig vir my ‘n baie moeilike jaar was,” gee sy te kenne.

“Ek het baie struikelblokke gehad wat ek moes oorkom. Ek is net baie dankbaar dat ek kan terugkyk en besef dit was ‘n suksesvolle jaar ten spyte van al die struikelblokke,” vertel sy.

Liezl is dankbaar vir die toekennings.

“Ek is so oorweldig oor die ondersteuning wat ek ontvang het. Alhoewel atletiek ‘n individuele sport is het mens steeds jou gemeenskap nodig en ek is dankbaar vir myne.”

Liezl vertel dit was uitdagend om vanjaar voltyds te werk en ook voltyds professioneel aan sport deel te neem en haar land te verteenwoordig.

“Ek het verwag dit gaan moeilik wees om beide aan te pak, maar dit was meer uitdagend as wat ek gedink het. Dit is regtig baie moeilik om heeldag op jou voete by die werk te wees en dan daarna te gaan oefen. Dit was besonders moeilik in die wintermaande.”

Liezl het ook gesukkel met verskeie beserings hierdie jaar. Sy vertel dit was egter alles die moeite werd en haar hoogtepunt was beslis haar deelname aan die Paralimpiese Spele in Frankryk.

“Baie mense besef nie wat dit vat om daar te kom nie, nie net die blote feit om te kwalifiseer nie, maar als wat mens moet oorkom en deurgaan om te kan deelneem.”

Om haar familie in die skare te gehad het in Frankryk was vir Liezl besonders spesiaal. Sy sê sy is van plan om tot en met 2028 se Paralimpiese Spele ‘n voltydse atleet te wees en wil die volgende vier jaar haar alles gee.

Liezl se toekomsplanne sluit in om verder te lokum in die apteek, verder te studeer en betrokke te wees by atletiek-ontwikkeling.

“My raad vir jong, hoopvolle atlete is om nooit te dink jou droom is te groot om na te jaag nie. Jy moet ook net besef daardie droom kom met ‘n groot verantwoordelikheid. Dit is nie altyd maklik nie. Daar is geen kortpad om jou drome te verwesenlik nie. Moet nooit opgee nie, al gaan dit hoe moeilik. Sodra jy die hoogtepunt bereik, sal jy die struikelblokke nie meer raaksien nie,” sluit sy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button