Reeksverkragter vas wat glo 12 jarige meisies verkrag
Die meisies is na die verdagte se blyplek gelok, waar hy hulle verkrag het.
Die provinsiale eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in die Noordwes het ‘n 34-jarige Zimbabwiër aangekeer wat glo ‘n reeksverkragter is.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is Dinsdag 2 Desember by sy woonplek in Ikageng-uitbreiding in Klipgat, naby Brits in hegtenis geneem nadat hy met die verkragting van drie jong meisies van 12 jaar oud verbind is.
“Die polisie het die beskuldigde aangekeer nadat een van die slagoffers se ma haar dogter Sondagaand 1 Desember by die man se blyplek gekry het. Die 12-jarige het later vir haar ma gesê dat die beskuldigde haar verkrag het. Die ma het die saak dadelik by die polisie aangemeld. Daar word verder beweer dat hierdie gedrag sedert Januarie aan die gang is.”
Die slagoffer was deel van ‘n groep meisies wat na bewering na die beskuldigde se huis gelok is waar hy hulle geld sou betaal om hulle te verkrag en die voorvalle is nooit aangemeld nie.
“Die moontlikheid om die beskuldigde, wat onwettig in die land is, te koppel aan verskeie sake van dieselfde aard kan nie uitgesluit word nie,” het Myburgh voortgegaan.
Die beskuldigde het Woensdag 4 Desember in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn en sal in aanhouding bly tot met sy volgende verskyning, wat op 20 Januarie 2025 plaasvind.