Jong ma veg vir lewe na gru-ongeluk
Maar dit was die oomblik wat sy voor haar gekyk het, wat haar hart in haar skoene gesak het.
Wat ‘n naweek wegbreek see-toe moes wees, het in die oggendure op 10 Januarie vir ‘n familie van Potchefstroom in ‘n tragedie verander.
Een jong mamma veg nou vir haar lewe na ‘n botsing tussen die familie se bakkie en ‘n trok.
Stacey van der Merwe (21), die toegewyde ma van ‘n pragtige drie maande oue babadogtertjie, Milané Rose, het ernstige beserings, insluitend gebreekte arms, gebreekte heupe, kraniale bloeding, en ‘n diep gesigswond tydens die ongeluk opgedoen.
Jessice-Leigh van der Merwe (27), Stacey se sussie, vertel sy , Stacey, hulle ma, hulle jonger sussie en hulle drie kinders het besluit om ‘n vinnige naweek wegbreek na Margate te neem.
“Ons het Donderdagaand klaar gepak en besluit om deur die nag te ry sodat die babas en die kinders kan slaap. Ons het ook gehoop die pad sal rustiger wees. My dogtertjie was katjie van die baan, so ek het nie geslaap nie. Nadat ons in Harrismith gestop het, het ek aan die slaap geraak.”
Sy vertel sy het wakker geword as gevolg van die impak. Sy het heel eerste seker gemaak die twee babas wat in die karstoeltjies langs haar was, is veilig. Hulle albei het geen beserings opgedoen nie. Sy het agter haar gekyk en gesien haar jongste sussie en haar seun is nie ernstig beseer nie. Maar dit was die oomblik wat sy voor haar gekyk het, wat haar hart in haar skoene gesak het.
“My ma het verskriklik geskree en toe ek vir Stacey kyk, het ek gesien haar kant van die bakkie was heeltemal ingedruk. Dit was aaklig.”
Daar het mense by die ongelukstoneel gestop en Jessice-Leigh kon die babas vir hulle aangee. Die barmhartige samaritane het die babas by hulle in hulle kar gehou en ook seker gemaak Jessice-Leigh se jongste sussie, Annie (15) en haar seun, Jean (8) is veilig.
“Ek het hulle gevra om my kinders veilig te hou terwyl ek na my sussie gaan kyk. Sy het net na die ongeluk geen pols gehad nie, maar nadat hulle die kinders by my geneem het, het ek weer gevoel en kon ‘n baie ligte pols voel. Terwyl ek en my ma gehelp het om haar veiligheidgordel los te maak, het Stacey weer vlak begin asem haal.”
Jessice-Leigh vertel die een kant van Stacey se gesig was baie lelik gesny en sy moes ‘n gedeelte daarvan teen haar gesig vashou. Stacey se arm was ook in die vensterraam vasgedruk. Na wat gevoel het soos ‘n ewigheid, het nooddienste op die toneel opgedaag.
Nooddienste het vir Stacey uit die voertuig uitgesny. Stacey en Jessice-Leigh is albei in Ladysmith in die hospitaal opgeneem. Jessice-Leigh het albei haar bene tydens die ongeluk gebreek. Stacey is in die intensiewesorgeenheid opgeneem.
Stacey is Sondag, 12 Januarie in vir operasies waarby hulle haar gesig en haar arms herstel het. Sy gaan vir verdere toetse vir die bloeding op haar brein en daarna sal haar behandeling besluit word.
Soos baie Suid-Afrikaners het Stacey egter nie ‘n mediese fonds nie. Sy was gelukkig om behandeling van die toegewyde personeel van ‘n privaat hospitaal te ontvang, maar die koste is oorweldigend.
Indien jy ‘n bydra wil maak om die familie in hulle tyd van nood te help, kan jy by hulle BackaBuddy ‘n donasie maak.
Moet geen betaling in ‘n bankrekening betaal nie omdat die gesin geteiken word deur mense wat hulself as die familie voorgee en valse bankbesonderhede plaas. Donasies moet slegs deur die BackaBuddy skakel gedoen word.
https://www.backabuddy.co.za/campaign/stand-with-stacey






