Moordbeskuldigde se borg geweier
Drie vuurwapens, waaronder die twee wat tydens die aanval gesteel is, en nog een wat vermoedelik tydens die uitvoer van die misdade gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind.

Een van die verdagtes wat op onder meer aangekla word van die moord op ‘n plaasbestuurder in die Buffelshoek omgewing, is borgtog geweier.
Ian Boshoff (32), ‘n plaasbestuurder op Snymanshof Lodge in die Buffelshoek omgewing tussen Potchefstroom en Parys, is op 25 Oktober tydens ‘n rooftog doodgeskiet.
William Johnson Mboniswa (33) word saam met Phafelo Israel Mboniswa (42) van huisbraak, moord, diefstal van ‘n motorvoertuig, twee aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla. William se borgtog is 20 Januarie geweier. Phafelo het nie aansoek om borgtog gedoen nie. Hy het ook sekere bekentenisse oor die roof en moord op die Snymanshof-lodge gedoen, maar dié is nog nie in die hof geopenbaar nie.
William ontken skuld op die verskeie aanklagte. Drie mans is aanvanklik op 7 November 2024 in hegtenis geneem maar die klagte teen een van hulle is weens ‘n gebrek aan bewyse laat vaar.
Drie vuurwapens, waaronder die twee wat tydens die aanval gesteel is, en nog een wat vermoedelik tydens die uitvoer van die misdade gebruik is, is in die verdagtes se besit gevind. “Die verdagtes het die slagoffer se voertuig, twee vuurwapens, gereedskap en huishoudelike goedere gevat. Die verdagtes het vroeër ook by ‘n ander huis in die area ingebreek,” het polisiewoordvoerder Brigadier Sabata Mokgwabone destyds aan die Herald gesê.
Die saak is tot 5 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.