Local news

Aupair oorsee: Jy moet die regte ingesteldheid hê

Cheney vertel verder baie meisies gaan oorsee vir die verkeerde redes, of met die verkeerde verwagtinge, en dit kan bydra tot ‘n slegte ervaring.

Na aanleiding van ‘n artikel wat die Herald laasweek oor een Aupair se nagmerrie oorsee geplaas het, het Cheney en Maryke Collins, eienaar en admin bestuurder van World Voyage – ‘n agentskap wat glad nie met die geval geassosieer is nie – besluit om te praat oor die hoog-tepunte om ‘n Aupair te wees oorsee.

“Ons voel regtig jammer vir Kihara wat ‘n slegte ervaring gehad het, maar dit is gelukkig nie die geval met almal nie. Ons het laas jaar uit 120 plasings net twee meisies gehad wat huis toe gekom het. Die res was baie gelukkig en het hul termyn klaargemaak,” verduidelik Cheney, wat self al drie keer as Aupair oorsee gewerk het.

Cheney vertel verder baie meisies gaan oorsee vir die verkeerde redes, of met die verkeerde verwagtinge, en dit kan bydra tot ‘n slegte ervaring.

“Wanneer ons deur die sifting proses gaan, mag die redes glad nie wees dat jy wil spaar, geld huis toe stuur, of geld wil gebruik vir studies nie. Jy moet gaan omdat jy wil toer, ‘n nuwe land wil ervaar, ondervinding opbou, nuwe kulture wil ervaar en nuwe dinge wil leer. Ons wil hê jy moet elke sent wat jy daar verdien op jouself, herinneringe en ervarings spandeer.”

Maryke, admin bestuurder van World Voyage, sê die rede hoekom hulle nie meisies laat oorgaan wat wil spaar of geld huis toe wil stuur nie, is omdat die meisies dan heeldag op hul af dae in die huis sit in plaas daarvan om iets te gaan doen.

“Dit is wanneer hulle depressief raak, na die huis verlang en verskonings soek om huis toe te kom,” meen sy.

Maryke verduidelik ook dat wanneer daar onraad vermoed word, mag daar ewekansige besoeke afgelê word.

“Dit vat ‘n sekere tipe meisie met ‘n sekere persoonlikheid om ’n Aupair te wees. Dit gaan ook oor watter land jy kies en hoe aanpasbaar jy is. Ons het ‘n baie streng sifting proses en ons het baie kliënte wat terugkeur vir ‘n tweede of derde keer.”

Cheney vertel hulle het so baie sukses stories, sommiges wat mense in trane het.

“Ons kliënte kom van all walks of life. Ons het een Aupair gehad wat uit baie moeilike huislike omstandighede gekom het. Haar huisma en huispa oorsee het die rol van haar ouers aangeneem. Met behulp van die huispa is sy vandag ‘n lugwaardin.”

Een van die huisma’s oorsee, waar Kihara gewerk het, het na die Herald uitgereik nadat die artikel geplaas is en haar kant van die storie gestel.

“Die hartseerste van die saak is dat Kihara se opinie baie ander wonderlike mense kan ontmoedig om in te skryf vir hierdie ongelooflike program. Wanneer beide die Aupair en die gesin die program met die regte ingesteldheid betree en werklik deel wil wees van ‘n wederkerige verhouding, kan dit ‘n pragtige ding wees. Ek is steeds in kontak met drie afsonderlike vroue wat in ons huis gewerk het, wat ons altyd as familie sal beskou,” sê sy.

Die huisma, wat anoniem bly om die program waarvan sy deel vorm te beskerm, erken dat sy haar nie oor Kihara se ervarings met die ander gesinne kan uitlaat nie. Sy gee egter te kenne dat Kihara tydens haar indiensneming by hulle nooit sonder kos of ‘n kar was nie.

“Ons het selfs vir haar brandstof vir persoonlike dinge betaal, wat ander families nie doen nie.”

Hierdie huisma wil ouers gerusstel dat ‘n Aupair program iemand se een geleentheid in die lewe kan wees om uit te gaan en die wêreld te verken en deel te wees van iets spesiaals.

“Nou sê ek nie al die gesinne en alle Aupairs is wonderlik nie. Dit beteken net daar moet gegee en geneem word. Die sleutel is dat beide die Aupair en gesin bereid moet wees om uit hul pad te gaan om mekaar te help en mekaar met respek te behandel. As almal saamwerk en oop en eerlik kommunikeer, kan dit ‘n wonderlike ervaring wees. Daar is miljoene wonderlike suksesverhale daar buite van Aupairs en gasgesinne wat wonderlike ervarings gehad het.”

Elsje Erasmus, wat in 2015 in Nederland as Aupair gewerk het, is een so suksesverhaal. Sy sê dit was een van haar beste ervarings.

“Ek het myself as mens gevind. My horison is verbreed en my tonnelvisie het verdwyn. Ek het gegaan om verskillende kulture en kosse te ervaar. Ek het ook gehou van die verskillende klimaat van land tot land. Ek het tot vandag toe nog kontak met die meerderheid van die mense. Ek gaan hierdie jaar terug vir my reünie.”

Hier is ‘n paar wenke van World Voyage vir die meisies wat Aupair werk oorweeg:

  • Dit is ‘n geleentheid om groot te word, jou horisonne te verbreed, nuwe kulture te ontdek, jou eie identiteit te ontdek en selfstandig te word.
  • Jy doen gewoonlik ‘n taal kurses of kry krediete vir universiteit wat jy dan op jou CV kan gebruik.
  • Mens moet baie mooi dink voor jy so ‘n besluit maak. Jy moet weet wat jou motivering is om oor te gaan. As dit enigiets met spaar, ‘n buitelander te trou of geld huis toe te stuur te doen het, moet jy dit nie doen nie. Jy moet besef jy moet huis toe kom.
  • Doen vooraf goed navorsing oor die land waarin jy belangstel.
  • Luister vir jou agent as hulle voel ‘n land of ‘n situasie gaan nie by jou pas nie.
  • Wees oopkop. Besef jy gaan snaakse kosse moet eet en voorberei.
  • Trek jou vleistande, want ander lande eet nie so baie vleis soos Suid-Afrikaners nie.
  • Pak alles met ‘n sin vir humor aan.
  • Vat verantwoordelikheid vir jou foute.
  • Soek die silwer randjie in als.
  • Jou uitkyk is wat jou sukses gaan bepaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button