Elizka de Bruyn (17), Zanica Bechaz (14), Somé Cromhout (16) en Nicolene Minnaar (16), vier passievolle dansers, almal leerders by Potchefstroom Gimnasium se Dansakademie, gaan Suid-Afrika in Julie by die Internasionale Mediterranean Legends kunstefees en kompetisie in Spanje verteenwoordig.
Hulle het van verlede jaar af ekstra hard gewerk om geld in te samel om hul drome waar te maak. Die toer sal vanaf 12 tot 18 Julie plaasvind en elke danser het +- R68 000 elk nodig.
Die spannetjie het verlede jaar November koekies en ander gebak by die Mooirivier Kersmark verkoop om geld in te samel.
Hulle het ook twee Padel Americanofondsinsamelings inisiatiewe gehou. Hierdie geleenthede het in November 2024 en vroeër vandeesmaand plaasgevind.
“Ons wil graag ons waardering deel teenoor die borge wat ons dansers se Padel Americanofondsinsamelings ondersteun het. Ons borge het gehelp met printwerk en pryse geskenk vir ons spelers. Dankie vir hierdie ondersteuning wat geleenthede vir ons dansers laat realiseer,” het Anchenique Papenfus, die dansers se afrigter, gesê



