Annelia Esterhuizen (6), ‘n gr.1- leerder aan Laerskool Mooirivier, kraai Kanarie-koniging nadat sy verskeie pryse by vanjaar se Kanarie skou opgeraap het.
Klein Annelia se liefde vir voëltjies en diere het begin nadat haar gesin ‘n baba wilde kanarie tydens hul vakansie by Mabalingwe opgetel het.
“Die voëltjie het uit die nes geval. In daardie stadium kon die eienaar van die natuurreservaat nie die voëltjie inneem nie en Annelia kon dit nie oor haar hart kry om hom net daar te los nie. Ons het hom huis toe geneem en met die hand grootgemaak. Dit is waar haar liefde vir Kanaries begin het,” vertel Anja, Annelia se ma.
Annelia, wat droom daarvan om eendag ‘n veearts te word, het nou 11 kanaries waarmee sy skou. Sy het ook ‘n kokketiel en Lovebird as troeteldiere.
Annelia is deel van die Potchefstroom Kanarieklub. Die klub het agt lede en bestaan al 29 jaar. Die voorsitter, Fanie Ferreira, is al 13 jaar by die klub betrokke.
Hy vertel die klub woon gewoonlik die skou tussen Mei en Junie by.
Annelia het by hieride jaar se skou twee eerste plekke en twee tweede plekke verwerf. Sy vertel alhoewel haar mamma haar steeds moet help om die hokke skoon te maak, sy al die ander sorg van haar kanaries self doen.
Annelia se boetie, Ruvan (4), het ook nou belangstelling begin toon en Annelia het vir hom een van haar voëltjies gegee.




