Local news

Taxidrywer val man na bewering aan

Hy het ‘n saak by die polisie aangegee.

Seiso Jonas het 21 Junie vir sy lewe gevrees nadat hy glo wreed deur ‘n taxidrywer in Promosa aangeval is.

Seiso vertel hy het Saterdag van sy huis in Promosa af gery, nadat hy ‘n begrafnis bygewoon het, om sy vrou in Ikageng te gaan optel toe die insident plaasgevind het.

“Ek het op ‘n taxistaanplek afgekom, dit is nie ‘n amptelike taxistaanplek nie, maar ‘n plek waar drywers net oor die algemeen stop. Daar het twee taxis langs mekaar in die pad gestaan en dit onmoontlik gemaak om verby te kom.”

Hy sê daar was geen drywers in die taxis nie en hy het uit sy motor geklim om iemand te soek om te vra of hulle die taxis kan skuif. Dit is toe wat ‘n man, bekend aan hom, wat glo besope was, hom aangeval het en met die vuis begin slaan het.

“Die man het na my toe gekom en begin skree en vloek. Sy woorde was dat dit nie my pad is nie. Dit is almal se pad. Toe ek terugkeer na my voertuig, het hy my aangeval. Ek het teruggeslaan en ons het op die grond geval. Dit is toe wat ander mense by die geveg aansluit en my begin skop. Ek het die man wat my aangeval het gelos en gemeenskapslede het my gehelp om in my kar te klim sodat ek kon wegry. Teen daardie tyd het iemand ‘n taxi uit die pad geskuif.”

Seiso gaan voort om te vertel hy het na sy ma se huis toe gery om hulp te gaan soek en die twee van hulle het na die toneel teruggekeer om die situasie uit te sorteer.

“Toe ons daar kom, was al die taxis weg. Ons het die man wat my aangeval het, langs die pad gekry en wou dit met hom uitsorteer. Dit is toe wat hy my drie keer oor die kop met ‘n skerp voorwerp geslaan het. My neef, wat in die omtrek was, moes klippe optel en dreig om die man daarmee te gooi, voordat hy opgehou het om my aan te val. Ek het net gesien hoe die bloed in my oë loop.”

Volgens Seiso, is die verdagte ‘n bekende taxidrywer. Seiso het diep snywonde aan sy kop opgedoen en moes altesaam 15 steke kry. Sy knie is ook in die voorval beseer. Hy het ‘n saak by die polisie aangegee.

Die voorsitter van die Taxivereniging wou nie kommentaar oor die saak lewer nie. Die polisie het aan Potchefstroom Herald bevestig dat die saak ondersoek word en die verdagte is nie in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button