Local news

Hy is haar oë, haar beste vriend

‘n Noordwes-Universiteit student gesels oor haar lewe op kampus saam met haar gidshond, Huckleberry.

Huckleberry, die Golden Retriever, byna twee jaar oud, is nie net Leané Venter (19) se gidshond nie, hy is ook haar oë en haar beste vriend.

Leané is gebore met nystagmus en het slegs 20% visie. Nystagmus is ‘n onwillekeurige, ritmiese, ossillerende beweging van die oë, wat horisontaal, vertikaal, roterend of gemeng kan wees. Sy het ook ‘n boetie wat met dieselfde kondisie gebore is.

Gebore in Pietersburg, nou bekend as Polokwane in Limpopo, is sy nou ‘n eerstejaar Sielkunde student aan die Noordwes Universiteit. Sy vertel hoe die universiteit so tegemoetkomend teenoor haar en Huckleberry is.

“In die eerste semester het ons ‘n kamermaat gehad, maar in die tweede semester het hulle vir my en Huckleberry ons eie kamer gegee omdat hulle gevoel het dit sal beter wees vir ons. Eerstejaars kry nie hul eie kamers nie.”

Leané vertel dat Huckleberry haar eerste gidshond is en sy hom reeds vir die rede gekry het omdat sy so ver van die huis af op universiteit moet wees.

“Dit sou vir my te moeilik wees om alleen op kampus rond te beweeg. Dit was baie makliker toe ek in die skool was, maar ek het baie op my ouers se hulp staatgemaak. Ek was ook skrikkerig om vriende te maak, want ek wou nie hê mense moet dink ek is ‘n las of hulle moet my heeltyd oppas nie.”

Dit was aan die begin vir Leané baie moeilik om so ver van die huis af weg te wees.

“Ek het elke aand gehuil en my ouers gebel. Dit het wel uiteindelik begin rustiger raak en ek het aangepas. Huckleberry het dit definitief vir my makliker gemaak.”

Huckleberry is deur Smart Service Dog in Durban opgelei. Hulle leer spesifiek mediese waarskuwingshonde, gidshonde en emosionele ondersteuningshonde. Leané se pa het ook destyds honde in die weermag opgelei.

“’n Gidshond kan geleer word, maar as jy nie weet hoe om met die hond te werk nie, is daar geen doel daarin nie.”

Sy het onlangs ‘n onderonsie by een van die winkelsentrums in Potchefstroom gehad waar sekuriteit haar gevra het om haar hond te verwyder, ongeag die feit dat dit ‘n gidshond is.

Leané wil graag mense waarsku dat alhoewel gidshonde oulik is en die versoeking groot is om met hulle te wil praat of hulle te wil vryf, kan die afleiding negatiewe gevolge hê.

“Wanneer Huckleberry se aandag deur mense afgetrek word, kan ek baie maklik val of seerkry. Mense besef nie dit bly steeds ‘n hond en hulle geniet aandag, maar hulle is daar om te werk en moet altyd op hul hoede bly om seker te maak die persoon aan hul sy kry nie seer nie.”

Leané en Huckleberry op kampus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button