Plofstof tydens padblokkade op N12 ontdek
Drie manlike verdagtes, tussen 41 en 48 jaar oud, is onmiddellik in hegtenis geneem.
‘n Bomtegnikus is 12 Desember na ‘n toneel op die N12 ontbied nadat plofstof ydens ‘n padblokkade ontdek is. Die plofstok was in ‘n motor versteek wat deur die polisie deursoek is.
Konstabel Thuto Bobelo, polisewoordvoerder, sê die voertuig is op die N12 tussen Stilfontein en Klerksdorp afgetrek.
“Die polisie het die motorvoertuig voorgekeer terwyl hulle ‘n roetine-padblokkade uitgevoer het. Tydens die deursoeking van die voertuig het die polisie ses sakke met plofstof en plofstofbykomstighede ontdek.”
Drie manlike verdagtes, tussen 41 en 48 jaar oud, is onmiddellik in hegtenis geneem vir die besit van plofstof volgens die Wet op Plofstowwe, 26 van 1956, artikel 28(1).
“’n Bomtegnikus is na die toneel ontbied, wat die plofstof veilig verpak en verseël het. Daar was na raming 150 skokbuis-detonator-samestellings, byna 40 elektriese skokbuis-inisieerders en 5 ontploffingspatrone,” sluit Bobelo af.
Die trio het hul eerste verskyning op 15 Desember in die Stilfontein-landdroshof gemaak.





