Local news

VIDEO: PAWS Haven benodig jou hulp

Ten spyte van hierdie uitdagings bly PAWS Haven vasbeslote om nie hul belofte te breek nie.

Elke oggend breek by Paws Haven aan met ’n stil belofte, om nie weg te kyk wanneer ’n dier ly nie. Dit is ’n belofte wat middernagte steel, wat hande vuil maak en harte swaar laat dra. Dit beteken noodoproepe, reddings in die reën en stof, jaagtogte na die veearts en kos wat afgelewer word waar hoop al lankal skaars geraak het.

Maar daardie belofte word tans ernstig beproef. “Ons bakkie is eenvoudig op sy laaste,” sê Annelize van der Westhuizen, een van die voorsitters van PAWS Haven. “En sonder betroubare vervoer raak dit al hoe moeiliker om vinnig en veilig te help.”

Die voertuig wat eens ’n lewenslyn was vir diere in nood, sukkel nou om sy taak te verrig. Só erg, dat personeel dikwels hul eie privaat voertuie gebruik om diere te vervoer, kos af te laai en op noodoproepe te reageer. Nie omdat dit maklik is nie, maar omdat daar eenvoudig geen ander keuse is nie. Vir PAWS Haven is ’n bakkie nie ’n luuksheid nie. Dit is nie ’n gerief of ’n bonus nie. Dit is ’n noodsaaklike hulpmiddel, ’n Brug tussen nood en oorlewing.

“Sonder ’n betroubare voertuig kan ons nie diere betyds by die veearts kry nie,” verduidelik Annelize. “Ons kan nie kos en skenkings vervoer nie, en wanneer daar ’n noodgeval is, kan ons nie reageer soos ons moet nie. Elke minuut tel.”

Wat baie mense nie altyd besef nie, is dat dierewelsyn veel verder strek as kosbakke en verbande. PAWS Haven bestee gemiddeld R5 000 per maand aan brandstof alleen. ’n Ontbeerlike koste om diere in nood te bereik. Sonder brandstof kan geen redding plaasvind nie. Sonder vervoer kan geen lewe gered word nie.

En PAWS Haven se werk strek veel wyer as net katte en honde. Die organisasie help alle diere in nood. Perde, beeste, donkies, skape, bokke, hoenders en selfs wild soos hase. Groot of klein, mak of wild, as ’n dier se lewe in gevaar is, word daar opgetree. In noodgevalle is daar geen wagtyd nie. Dan is dit “voet in die hoek”, want ’n lewe hang aan ’n draadjie.

Die uitdagings stop egter nie by brandstof nie. Die huidige bakkie verg voortdurende instandhouding, ’n realiteit wat dikwels oor die hoof gesien word. Onlangse herstelwerk het onder andere nuwe voorbande, wielverstelling, ’n volledige diens, sluitwerk en bykomende meganiese herstelwerk ingesluit. Hierdie kostes stapel vinnig op en sluk ’n groot deel van ’n reeds gespanne begroting in.

“Baie mense dink ’n voertuig is net ‘inklim en ry’,” sê Annelize. “Maar onderhoud, bande, brandstof en herstelwerk is alles deel van die prys wat betaal moet word om diere te red.”

Ten spyte van hierdie uitdagings bly PAWS Haven vasbeslote om nie hul belofte te breek nie. Hulle bly opdaag. Hulle bly help. Hulle bly hoop, selfs wanneer dit moeilik is. Daarom doen PAWS Haven nou ’n opregte beroep op die gemeenskap, besighede en enige instansie met ’n hart vir diere. Of dit ’n skenking van ’n bakkie is, of ’n finansiële bydrae wat hulle nader aan hierdie doel bring. Elke bydrae maak ’n tasbare, lewensreddende verskil.

“Elke vorm van hulp het ’n direkte impak op die lewens wat ons daagliks probeer red,” sê Annelize. Soms is hoop nie iets groots of ingewikkeld nie. As jy ‘n donasie an PAWS Haven wil maak, kan jy hulle by 063 181 3524 skakel.

Kyk na die video hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button