Wees maar versigtig as jy in Paryslaan ry
Almal wonder wanneer die gedeelte van die pad in Paryslaan wat verby Canal Crossing loop, reggemaak gaan word. Volgens mnr. Chris Landsberg, wyksraadslid vir die betrokke wyk, hang dit af hoe vinnig die stadsraad geld kan voorsien. ALS het die kontrak gekry om die bogenoemde stuk pad oor te doen. “In dié stadium lê die …

Almal wonder wanneer die gedeelte van die pad in Paryslaan wat verby Canal Crossing loop, reggemaak gaan word.
Volgens mnr. Chris Landsberg, wyksraadslid vir die betrokke wyk, hang dit af hoe vinnig die stadsraad geld kan voorsien. ALS het die kontrak gekry om die bogenoemde stuk pad oor te doen. “In dié stadium lê die verantwoordelikheid van die pad steeds by ALS, maar toe hulle by die punt kom dat hulle kan teer, het hulle agtergekom dat daar gedeeltes in die pad is wat swig. ALS het die stadsraad gevra of hulle nie die tender wil verhoog nie, sodat hulle die gedeelte wat swig”, kan uitgrawe, kompakteer en dan weer teer. Indien hulle dit nie doen nie, sal die pad op daardie gedeeltes binne ‘n maand net weer stukkend wees,” sê Landsberg.
Die bedrag wat benodig word om die tender uit te brei moet nog goedgekeur word deur die stadsraad. Die ontwikkelaar van Canal Crossing het intussen die nuwe verkeersligte laat aanbring by die kruising van Lindenstraat en Paryslaan. “Dié verkeersligte kan nie aangeskakel word as die finale afronding van die teer nie gedoen is en die strepe geverf nie is nie,” sê Landsberg. Hy het al vergaderings gehad met die betrokke rolspelers om die proses so vinnig as moontlik af te handel, Daar sal ook stoptekens by die verkeersligte opgerig word sodat mense kan sien dat hulle dit moet gebruik as ’n vierrigting stop.
Landsberg het genoem dat die ligte by die Nelson Mandela/Paryslaan-kruising van Maandag af vir drie dae gaan af wees vir opgradering. Hier sal ook stoptekens opgerig word. Volgens Landsberg kan alles binne ’n kwessie van twee, hoogstens drie weke afgehandel wees as die geld van die raad se kant af goedgekeur word.
“Ek vra baie mooi dat die gebruikers van daardie pad versigtig moet wees en dit as ’n vierrigting stop hanteer,” sê hy.