’n 86-jarige vrou is met verkragting gedreig nadat ’n verdagte by haar huis ingebreek het.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die verdagte op 15 Julie omstreeks 08:00 toegang tot die huis in Kampstraat verkry deur die kombuisdeur.
Hy het die bejaarde vrou gegryp, vasgemaak en aangerand. Volgens Chaka het die verdagte die vrou geskop en geslaan terwyl hy kontant by haar geëis het.
“Hy het vir haar gesê as sy nie vir hom geld gee nie, dat hy haar herhaaldelik gaan verkrag,” het Chaka gesê.
Die verdagte het met haar bankkaart en kontant gevlug.
Volgens Chaka is huisrooftogte die afgelope tyd ’n groot probleem. Nog twee ander sake waar die mense aangehou is, word ook ondersoek. In Kleinstraat op 20 Julie omstreeks 09:00 is ’n vrou ook aangehou deur ’n verdagte wat haar met ’n mes gedreig het. Die verdagte het ook geld gesoek. Volgens Chaka het hy vir die vrou gesê as sy geraas maak, gaan hy haar doodmaak.
In Beachrylaan is ’n man op 21 Julie omstreeks 23:30 ook in sy huis aangehou deur drie verdagtes. Een van die verdagtes was gewapen met ’n vuurwapen, terwyl die ander twee messe gehad het.
Die man se hande en voete is vas- gemaak. Die verdagtes is weg met die man se voertuig, juweliersware, kontant, asook elektroniese toestelle.
Chaka het ’n paar wenke gegee om huisrooftogte te help voorkom. Volgens Chaka moet mense altyd seker maak dat alle deure ten alle tye gesluit is. Sekuriteitshekke moet verkieslik voor en agter geïnstalleer word, asook diefwering by alle vensters.
Dit is altyd ’n goeie idee om jou buurman te leer ken en goeie verhoudinge met hom te hê. Huishulpe en tuinwerkers moet nooit van die straat af aangestel word nie. Dring op verwysings asook ID nommers aan voor mense aangestel word.
Dik bosse, struike en plante naby vensters is ’n goeie skuilplek vir rowers.
Wanneer mense in ’n nuwe huis intrek, moet daar gekyk word dat nuwe slotte aan buitedeure aangebring word.



