”Al wat ek oor het is my Bybel. Verder het ons alles verloor.”
So vertel Basjan Bezuidenhout, ’n inwoner van die Jack Pauw-seunskoshuis by Hoër Volkskool wat deur ’n brand verwoes is.

“My krieketkit is weg, my foon, boeke, die klere in my kas, tot die yskas is uitgebrand,” sê hy.
Dié historiese koshuis het Maandagaand omstreeks 20:50 begin brand. Volgens Elias Malindi, woordvoerder van die onderwysdepartement, is die vermoede dat die brand deur ’n elektriese fout veroorsaak is.
“Ons was almal in die studiesaal besig om te studeer toe ons iets hoor. Ons het gaan kyk en die rook gesien. Dit is toe dat ons almal uithardloop,” vertel Bezuidenhout oor die voorval.
Potchefstroom brandweer, PUK brandweer, die weermag, ER24 en Mooirivier Beskerming was almal op die toneel om te help. Kobus Fourie, voorsitter van die beheerliggaam het gereël dat die kinders vir die aand in die Elgro Hotel gehuisves word.
“Ons het in samewerking met die departement, dieselfde aand begin met traumaberading vir die seuns,” sê Fourie.

Volgens hom het hulle ongelooflike ondersteuning van die onderwysdepartement, die Volkie en oud-Volkie gemeenskap asook die breër gemeenskap van Potchefstroom ontvang.
“Mev. Sebolai, distrikbestuurder by die departement was van die begin af by ons gewees,” vertel Fourie.
Wendy Matsimela, LUR van Onderwys in Noordwes, het gewys op die goeie ontruimingsplan wat in plek is by die koshuis.
“Omdat daar sulke planne in plek is, is niemand beseer nie,” het Matsimela gesê. Volgens Fourie het ouers wat naby genoeg aan die skool woon van die leerlinge kom haal. Die leerlinge wie se ouers ver bly, sal geakkommodeer word in die Elgro Hotel.
Die langtermyn oplossing is om leë kamers in die ander blokke van die koshuis vir dié seuns in te rig.
Daar is nog nie vasgestel wat die totale skade is nie, maar die meeste van die seuns het alles verloor.
“Ek moet net dankie sê vir die goeie gesindheid van die ouers deur die moeilike tyd. Die gemeenskap moet ook bedank word vir alles wat hulle tot dusver gedoen het om die skool by te staan,” het Fourie gesê.

Hulp in die vorm van geld, beddegoed en klere na die brand stroom in nadat Potch Pay it Forward ’n fondsinsameling geloods het om die seuns en die skool by te staan. Dié inisiatief word deur die skool ondersteun. Enigeen wat skenkings wil maak kan die skool self skakel of dit direk by Potch Pay it Forward inbetaal. Die rekeningbesonderhede is as volg: Rekening naam: Run to Live
Nedbank, Tjekrekening
Rekeningnommer: 102 078 0223
Takkode: 198765



