NewsNews

‘Vreedsame’ optog ruk handuit

“Voetsek Afrikaans Voetsek!” was die kreet van ’n groep betogers wat by die NWU se Potchefstroomkampus verlede Donderdag betoog het vir vinniger transformasie by dié kampus.

“Voetsek Afrikaans Voetsek!” was die kreet van ’n groep betogers wat by die NWU se Potchefstroomkampus verlede Donderdag betoog het vir vinniger transformasie by dié kampus.
Die oproerige betogers het die hek van sy spoor probeer tel. Die polisie was genoodsaak om skokgranate te gebruik om die groep te versprei. Die betogers het weer bymekaargekom, maar die keer het ’n paar van hulle begin klippe opstapel.

 

VIDEO van die optog: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/die-anc-jeugliga-optog-by-die-nwu-potchefstroom-kampus/
“As hulle op ons skiet dan gaan ons hulle met klippe gooi,” het een betoger geskree. Ek het ’n foto van die betoger geneem, waarna hy met klip in die hand vir my gesê het “as jy weer ’n foto van my neem gaan ek jou met hierdie klip doodgooi.”
Gelukkig was die polisie gereed om die klippe by die betogers af te neem voordat hulle die terrein betree het.

Die polisie was noodgedwonge om skokgranate te gebruik
Die polisie was noodgedwonge om skokgranate te gebruik

Die betogers wou ’n memorandum aan prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, oorhandig. In die memorandum word onder meer geëis dat die NWU-raad onmiddellik ontbind word en dat ’n administrateur aangestel word, dat die forensiese verslag oor ’n R10-miljoen skenking van die NWU vrygestel word, die skorsing van die Puk-kampus se rektor, prof. Herman van Schalkwyk, salarisgelykheid tussen wit en swart werknemers en dat Engels as hoofvoertaal by die universiteit ingestel word.
Prof. Johannes Froneman, kommunikasie raadgewer van Kgwadi, is deur die betogers uitgejou as ’n aap. Die betogers wat bestaan het uit lede van die ANC jeugliga, jong kommuniste liga en SASCO, het prof. Froneman weggejaag omdat hy ’n lid van die DA is. Na bewering sou prof. Kgwadi oorspronklik die memorandum buite die terrein ontvang het. Die betogers het kwaad geword omdat die hekke toe was. Hulle het aan die hekke begin ruk en dit van die spoor af getel.
Die hek is uiteindelik oopgemaak sodat die studente die memorandum voor die institusionele kantoor kon oorhandig.
Intussen het die betogers sekuriteitspersoneel met bottels, water en koeldrank gegooi. Militante slagspreuke soos “niemand kan ons keer nie.” is deur die betogers voor die kantoor geskree. Een van die sprekers het gesê as dinge nie vinnig verander nie, gaan hulle elke sitting van die raad ontwrig.
“Hierdie is net die begin” het die betoger gesê.
Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die institusionele kantoor, het prof. Kgwadi die memorandum ontvang en sal hy dit met die raad deel.
Intussen het prof. Kgwadi ’n studentedialoog geinisieer. Hy wil studentebelangegroepe om ‘n tafel byeen kry vir ‘n reeks gesprekke oor die toekoms van die NWU. Die gesprekke sal onder die vaandel van “Ons is die NWU” plaasvind. Temas wat bespreek sal word, sal ras, taal, sport, studentelewe en maatskaplike samehorigheid insluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button