NewsNews

‘Ek is met die dood gedreig’

Ek is gedurende die optog by die Pukke, waar sowat 150 studente betoog het vir vinniger transformasie op die kampus, deur een van die betogers met die dood gedreig.

Ek is gedurende die optog by die Pukke, waar sowat 150 studente betoog het vir vinniger transformasie op die kampus, deur een van die betogers met die dood gedreig.
Hy het gedreig om my met ’n klip dood te gooi as ek weer ’n foto van hom neem. Hy en ander betogers het begin klippe opstapel nadat die polisie skokgranate gebruik het om die groep uiteen te kry.

Die polisie tel die klippe op wat opgestapel was
Die polisie tel die klippe op wat opgestapel was

Die voorval het my laat dink aan wat met ’n kollega jare terug tydens ’n AWB-byeenkoms gebeur het.
Mario se woorde aan my: “hulle was soos wildehonde,” het vir my ook ’n werklikheid geword naamlik die ‘mob’ mentaliteit wat gedurende sulke optogte heers.
Dit is kwalik ’n rasse kwessie, maar eerder mense wat tot enige iets in staat is omdat hulle saam in ’n groep is.
Dit wys ook op ’n kultuur van sensuur wat sulke betogers wil kweek deur joernaliste te dreig en aan te rand.
Mario het destyds vir Volksblad gewerk toe die AWB hom met onder meer knuppels tydens ’n byeenkoms op Brandfort aangerand het.
“Ons fotoredakteur destyds was Hannes Pieterse. Hy het my gewaarsku om versigtig te wees vir die AWB, maar ek het nooit in my wildste drome gedink dat my eie mense dit aan my sal doen nie,” vertel Mario.
Die AWB het nie van Volksblad se redakteur Hennie van Deventer gehou wat uitgesproke was teen die AWB nie. Daarom glo Mario is hy geteiken.
“Ons werk net vir ’n publikasie. Hoewel ons nie noodwendig met ’n publikasie se standpunt saamstem nie vat ons, wat op die grond werk, die meeste houe,” vertel Mario.
Mario se reuksintuig is na die aanranding heeltemal weg, hy het vyf gebreekte tande gehad en sy neus was gebreek. “As dit nie was vir ’n swartman wat my gehelp het nie, sou ek verseker doodgegaan het. Hy het my omgedraai sodat ek nie in my eie bloed verstik nie. Dit het die Saterdagoggend gebeur en ek het eers die Donderdagaand wakker geword,” vertel hy. Die emosie stoot in hom op omdat dié man se huis ’n ruk na die voorval afgebrand is waarin sy ma doodgebrand het. Dieselfde boelietaktiek word dikwels deur betogers gebruik. Hulle is vyandig teenoor die media, wat eintlik net daar is om hulle werk te doen.
Ek luister aandagtig na Mario se storie, dan besef ek hoe gelukkig ek eintlik is. In so ’n ‘mob’ dink niemand normaal nie.
Mense kom onder die invloed van die groep. As die een betoger besluit het om my met ’n klip te slaan of te gooi, sou daar 100 ander wees wat saam sou inspring.
Mario se storie bring die realiteit daarvan toe hy vertel hoe een van die mans wat hom aangerand het, ’n dokter van Bethlehem was.
“Dit is ’n bitter pil vir ’n man om te sluk, omdat jy moet sterk wees. Maar wat doen mens teen 30 ander?” vertel hy.
Ek moet self erken dat ek geskrik het met die Puk-optog en my vermoë om my werk te doen was belemmer. Ek het vir die res van die optog oor my skouer gekyk of die man wat my gedreig het, naby is. In ’n mate is dit ’n vorm van sensuur omdat ’n joernalis of fotograaf versigtig is oor watter foto’s hy neem of die trant van die storie wat hy skryf.
Hoewel ek in beginsel weier om geïntimideer te word, het ek ook ’n familie, ’n vrou en ’n kind. Wat word van hulle as ek nie meer kan werk nie, of erger selfs dood gemaak word in die uitvoering van my pligte? Mario het destyds ’n saak gemaak teen die mans wat hom aangerand het, maar hulle het net opgeskorte vonnisse gekry.
Ek oorweeg ’n saak teen die man wat my gedreig het, al is dit net om standpunt in te neem dat betogers nie kan doen wat hulle wil en daarmee wegkom nie.
“Dit los ’n letsel, ’n roof wat nooit regtig gesond word nie,” het Mario sy verhaal aan my afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button