“Daar is groot hartseer.”
So sê Coenraad Jurgens oor die atmosfeer wat tans in hul huishouding heers nadat hulle drie honde vergiftig is.
Een van die honde wat vergiftig is genaamd Rakker, is dié van Coenraad se seun, Divan (11).
“Hulle het alles saam gedoen, hulle was regtig soos beste vriende,” het Jurgens oor Divan en Rakker se verhouding gesê. Hulle was vir vyf jaar onafskeidbaar. Divan het hom oral saamgevat waar hy kon.

“Hy was deel van die familie. Hy het saam gaan visvang, jag, oral waarheen ons gegaan het. Hy het in die middae voor die hek gesit en wag vir Divan om by die huis te kom.
Almal is hartseer oor die honde,” sê Jurgens. Hy het vroeg Maandagoggend sy motor se alarm hoor afgaan by hul huis in Waterboklaan, maar het nie veel daarvan gedink nie.
“Dit was 02:30 en ek was maar baie deur die slaap.” Volgens hom het die honde ook geblaf, maar omdat een van die honde baie oud was het sy in die gewoonte geraak om vir enigiets te blaf. Daarom het hy hulle net stilgemaak en nie veel verder daaraan gedink nie.
“Ek het wel naderhand uitgegaan, maar het niks verkeerd gesien nie. Ons het maar vir hulle kos gegee omdat ek gedink het hulle was dalk honger en dit die rede is hoekom hulle so geblaf het.”
Later die oggend, toe Jurgens die kinders moes skool toe neem, het hulle die honde dood in die tuin aangetref, waaronder Rakker, die ou tefie en die jong babahondjie wat nog net vyf weke by hulle was.
Hy het toe eers gesien dat sy motor se deur oopgemaak is. Sover kon hulle nie vasstel of iets gesteel is nie.
Die Jurgens-gesin se honde is een van nege ander gevalle van hondevergiftiging in die Miederpark omgewing.
Kapt. Chaka, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ses honde verlede week in Uitsigstraat en Cannahlaan vergiftig is, asook honde op die Vyfhoekhoewes. Vroeg Woensdagoggend is daar nog ’n geval in Cannahlaan gerapporteer.
Die gif wat in die Jurgens-gesin se geval gebruik was, is Temek, ’n beheerde gif wat nie by enige winkel aangekoop kan word nie. Volgens dr. Ninette Leistner, veearts van die Potchefstroom DBV, werk dié soort gif baie vinnig. daarom word dit “two-step” genoem.
Volgens haar is daar nie veel wat mens by die huis kan doen as daar vermoed word dat ’n hond gif ingekry het nie.
“Die beste is om die dier so gou as moontlik by ’n veearts te kry sodat ’n teenmiddel ingespuit kan word.”
Sy gee wel ’n paar wenke. Volgens haar moet mens braking probeer veroorsaak by die dier.
“Klein balletjies waspoeier met ’n klein bietjie water, werk gewoonlik die beste om braking te veroorsaak sodat die gifstowwe wat nog in die maag is kan uitkom,” vertel Leistner. Maar sy waarsku mense om seker te maak dat dit nie in die diere se longe beland nie, omdat die lugpyp en slukderm baie naby aan mekaar sit
Mense kan ook hulle honde oplei om nie net enige oorskiet of gemors wat in die erf beland te eet nie. As honde buite slaap kan mense hulle erf so inrig dat die honde nie by die straat se kant kan uitkom nie.
“As ons geweet het dat hulle besig is in ons area het ek seker gemaak dat ons honde agter slaap,” het Jurgens gesê.
Kapt. Chaka sê die verskynsel kan dalk lei tot huisroof, inbraak en motordiefstal. Enige verdagte aktiwiteite, voertuie en mense kan aan die polisie se beheerkamer deurgegee word. Die nommer is (018) 299 7477 of (018) 299 7476.



