NewsNewsUpdate

Verhoor van Van der Leeuw moordenaars begin eersdaags

Die verhoor van drie mans en ‘n vrou wat verdink word van die moord op Koos van der Leeuw, ‘n gesiene beesboer in die Potchefstroom-omgewing, sal na verwagting op 28 November begin.

Die verhoor van drie mans en ‘n vrou wat verdink word van die moord op Koos van der Leeuw, ‘n gesiene beesboer in die Potchefstroom-omgewing, sal na verwagting op 28 November begin.
Tefu Mohua, Samuel Motsi, Aida Lebaka en Bibi Nycamphalala het Woensdag in die Potchefstroomse streekhof verskyn weens die rooftog en moord in Augustus verlede jaar.
Hul saak is oorgeplaas na die hooggeregshof, waar hul verhoor geskeduleer is vir 28 November tot 2 Desember in die rondgaande hof in Potchefstroom.
Die vier word aangekla van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede. Die hof het vroeër gehoor hulle is glo ná die aanval na ‘n tradisionele geneser in Venda om hulself te laat “reinig”.
Die aanval vroegoggend by die Potchefstroomse slagpale op die 68-jarige Van der Leeuw, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.

Oom Koos, wat deur rowers dood geskiet is.
Oom Koos, wat deur rowers dood geskiet is.

Gewapende rowers het Van der Leeuw en sy vrou, Marietjie, omstreeks 6:00 by die slagpale oorval toe hulle daarheen gery het om ‘n kontanttransaksie te beklink. Die rowers het sowat R77 500 kontant tydens die rooftog gebuit en Van der Leeuw in die kop geskiet, nadat hy een van die rowers geskiet het.
Marietjie het tydens die skietery in hul bakkie plat geval en gemaak of sy dood is. Sy was ongedeerd, maar die swaar gewonde Van der Leeuw het enkele ure later in die hospitaal gesterf.
Van der Leeuw was met sy dood nog gesond en het self geboer. Die rower wat hy geskiet het, is glo later in sy makkers se wegkomkar dood. Hulle het hom toe glo uit die voertuig gegooi, waarna die oorlede rower se familie ‘n lykbesorger betaal het om die liggaam te begrawe.
Mohua en Motsi is in Oktober verlede jaar op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, maar Lebaka en Nycamphalala het nie aansoek om borgtog gedoen nie.
Motsi het as ‘n drywer by die slagpale gewerk toe die rooftog plaasgevind het. Hy is tevore skuldig bevind aan gewapende roof en het vier jaar tronkstraf daarvoor uitgedien voordat hy op parool vrygelaat is, is tydens sy borgverhoor getuig. Hy was die dag van die rooftog laat vir werk.
Lebaka het ná haar inhegtenisname verlede jaar in die tronk geboorte gegee. Sy het Woensdag in die hof gesê haar parool (vir ‘n onbekende vorige oortreding) verstryk nou en dat sy dalk ook nou om borgtog aansoek wil doen.
Vroeër is in die hof getuig die beskuldigdes is vermoedelik deel van ‘n bende wat verbind word met nóg rooftogte in ander provinsies. Selfoonrekords wys glo ook al vier die beskuldigdes het kontak met mekaar gehad vóór en ná die rooftog, en dat hul selfone almal in die omgewing van ‘n selfoontoring naby die slagpale was toe die rooftog plaasgevind het.

Vorige stories oor die saak

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button