Haggis in die hooglande
Bertie Jacobs- Koeksisters. Dr Paul du Plessis mis koeksisters. Daar waar hy in koue Edinburgh sit kolk sy gedagtes soms in ʼn stroopdroom saam en dan smul sy geestesmond aan dié soetgebak. Ja, hy mis dit “en biltong en die mense.” Die 42-jarige regshistorikus en Romeinse regkenner – hy’t al verskeie boeke oor dié onderwerp …
Bertie Jacobs-
Koeksisters. Dr Paul du Plessis mis koeksisters. Daar waar hy in koue Edinburgh sit kolk sy gedagtes soms in ʼn stroopdroom saam en dan smul sy geestesmond aan dié soetgebak. Ja, hy mis dit “en biltong en die mense.”
Die 42-jarige regshistorikus en Romeinse regkenner – hy’t al verskeie boeke oor dié onderwerp neergepen – van die befaamde Universiteit van Edinburgh se glimlag blom op sy gesig. Nie net is hy terug by sy alma mater, die Fakulteit Regte by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, nie, dis boonop ʼn heerlike sonskyndag soos wat sy aangeneemde tuiste min sien.
“Die donker en die koud in Skotland het sy voordele: jy raak erg produktief. As die son skyn soos nou,” sê hy en wys by die venster uit waar die Regsfakulteit se grasperk in die Noordwes-son bak, “Dan wil jy net met ʼn boek buite sit.”
Loer na sy CV en jy lei af net hoe skugter die lig in doerdie geweste is.
“Ja-nee,” lag hy verleë.
Amper 14 000km soos die Airbus vlieg en nou, hoewel net vir ʼn paar dae, terug hier in Potch tussen dit halfbekend en dit halfanders.
“Dis lekker, dis goed om terug te wees. Daar het wel baie verander. Hier is soveel nuwe geboue op kampus en in die dorp. Tomstraat (nou Steve Biko) lyk heeltemal anders. En die Sport Village…”
As seun in Potchefstroom Gimnasium het hy vir afval gegril, maar daar waar die riviermond van die Forth in die Noordsee inloop het hy geleer haggis eet. Ná ʼn lang aand uit is dit die beste doepa, beloof hy. Haggis: die hart, lewer en longe van ʼn skaap, gemaal met uie, rou vet, speserye, hawermout en aftreksel en bedien toegedraai in die skaap se maag. Eish, seker maar ʼn geval van when in Rome.
Hy is sedert 2002 aan die Universiteit van Edinburgh verbonde en vir hierdie burger van die hooglande is dit ʼn geval van vêr van die huis tog ewe tuis.
“Die Afrikaners en die Skotte is baie dieselfde. Albei is gemoedelike, vriendelike mense, maar ook reguit mense. Jy weet presies waar jy met hulle staan. Ons is verseker meer soos die Skotte as die Engelse. Mens voel glad nie vreemd om tussen hulle te wees nie,” verduidelik hy.
Dalk nie vreemd vir hom nie, hoewel sy sesvoet-voertsek-hemel-toe-lyf gewis die aandag trek.
“Nee, ek is darem net so sesvoet-sewe,” sê hy.
Oor sy statuur in die regsgemeenskap is daar egter min te stry en as daar een man is wat met gesag oor die stand van regsake in sy geboorteland kan praat, is dit hy: “Die Suid-Afrikaanse regslandskap is so gesond soos enige ander een. Daar sal altyd probleme wees, niemand is perfek nie. Wat ek wel gesien het wat baie verblydend is, is die onpartydigheid van die regshowe. Dit is baie belangrik. Hulle het al telkemale gewys hulle sal nie swik onder politieke druk nie. Hulle is bereid om op te staan vir hulself. Dit is gesond.”
As seniordosent in burgerlike reg en regsgeskiedenis poog hy om daagliks die lesse wat hy op die Potchefstroomkampus geleer het, in die rigting van sy studente te weerkaats.
“Ek het hier nooit gevoel iemand is te besig om met my te praat nie. Die deure was altyd oop en binne was die dosente vriendelik en gemoedelik. Ek het geleer dat jou kwalifikasies jou nie maak wie jy is nie, jou menslikheid doen wel. Dit is die regte manier om dit te doen en dit is iets wat ek saam met my geneem het. Ek probeer dit self toepas.”
Sou hy self enige wet kon maak is sy keuse…
“Daar is te veel wetgewing en wetgewing los nie alle probleme op nie. Mense dink nie altyd mooi nie. In plaas van nuwe wette inbring moet mens dalk eerder ʼn algehele oorsig oor die bestaande wette hê. Maar, daar is reeds so baie dat dit moeilik kan wees en mens kan maklik in ʼn moeras van wette en regulasies insink.”
…behalwe dalk een:
“Ek sal ʼn werk-lewe-balans-wet in werking stel, want ek dink mens moet meer kyk daarna. Die lewe is kort. Ja, jy moet hard werk, maar jy moet jou lewe geniet.”



