SportSport

Potch Dorp se Boogeyman (41) skrum voort vir Luiperds Platteland

“Sondagoggend dan is my oog dalk blou of het ek ’n merk of twee. Dan sê ek vir my kinders hulle hoef nie te bekommer nie, ons sit net agter in die kerk.”

Ouderdom is meer as net ’n nommer vir die 41-jarige James Proctor wanneer hy sy nommer 1-rugbytrui aantrek.

Om op die rugbyveld te draf is elke keer vir hierdie Potch Dorp Rugbyklub-loskopstut ’n bewys dat aanhouer wen.

’n Paar jaar gelede was James ’n stewige 160 kg en moes hy sy gesondheid opskerp. Nou is hy 113 kg, danksy rugby wat hom nuwe wilskrag gee om ’n aansporing vir sy gesin te wees. Die enigste persoon wat nie daarvan hou om James op die rugbyveld te sien nie, is die opposisie se vaskopstut – dan maak hy kennis met “The Boogeyman”.

“My doel as stut is dat ek die opposisie plat skrum en dat hulle nuwe spelers opbring om teen my te skrum. Dit is waar die bynaam vandaan kom. Ek het ook The Boogeyman op my skrumpet gesit sodat hulle nie vergeet teen wie hulle skrum nie. Dit is alles deel van die pret om rugby te speel,” vertel hy met ’n glimlag.

Die kersie op die koek vanjaar was toe James hoor dat hy vir die tweede jaar in ’n ry vir die Luiperds-Plattelandspan einde September gaan uitdraf. Dit is vir hom ’n groot eer, gegewe sy ouderdom, aangesien hierdie span uit die beste klubspelers bestaan.

James Proctor is bekend as “The Boogeyman” omdat hy sy opponente plat skrum.

“Ek sit baie harde werk in. Ek is al 04:00 die oggend in die gym, gaan werk toe en dan oefen ek rugby in die aande. Kondisionering is baie belangrik vir my om aan te hou rugby speel,” vertel James, wat ’n siviele terreinbestuurder is.

James is ’n oud-Potch Volkie wat in 2004 gematrikuleer het. Hy het rugby op skool gespeel en noem dat hy nog altyd ’n voorliefde vir die spel het. Skrum is sy brood en botter.

“Op die veld sit ek alles in. Dit is ’n plek waar ek bietjie van die stres van die week kan ontslae raak. Rugby is emosioneel.”

James wou verlede jaar al sy tokse ophang, maar het besluit om nog ’n jaar van harde werk in te sit om sy kinders te inspireer.

“As tye moeilik raak en ek is moeg of uitgeput, dan moet ek net myself vra: ‘Vir wie doen jy dit?’ Wanneer ek aan Janco (13) en Mieke (12) dink, dan kry ek sommer weer energie vir die volgende sessie.”

“Hulle al twee geniet hul sport vreeslik. Ek en my vrou moedig hulle aan om soveel sport as moontlik te speel,” noem James, wie se kinders in Laerskool Baillie Park is.

Vir die jong manne by die klub is hy bekend as “Sir James” – ’n man na wie hulle kan opkyk.

“Dit is vir my lekker om die jong manne rustig te maak voor die wedstryd. Ek vertel hulle dat dit net nog ’n wedstryd is. Boeta, ons is almal saam hier. Ek het jou.”

Bowenal is hierdie stut lief vir die spel – dit is hoekom hy nie omgee om ’n hele paar stampe en stote te kry nie.

“Sondagoggend dan is my oog dalk blou of het ek ’n merk of twee. Dan sê ek vir my kinders hulle hoef nie te bekommer nie, ons sit net agter in die kerk.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button